118/2025
24 Junie 2025
Geagte Oraniërs,
HOOFDE VIR ORANIA SE ONAFHANKLIKE REGSPANEEL IS VERKIES
Opsomming : ‘n Hoof en adjunkhoof van Orania se onafhanklike Regspaneel, onderskeidelik mnr. Willem Westraad en ds. Sarel Roets, is onlangs verkies.
Die Dissiplinêre Kode van Orania maak voorsiening vir ’n nuwe prosedure in die ontwikkeling van ons eie regsprosesse, naamlik dat die Regspaneel ’n hoof en ’n adjunkhoof moet verkies. Hierdie verkiesing het onlangs plaasgevind en mnr. Willem Westraad is as hoof van die Regspaneel verkies, met ds. Sarel Roets as adjunkhoof.
Die hoof van die Regspaneel tree nie bloot as simboliese hoof van Orania se regsprekende gesag op nie, maar het verskeie verantwoordelikhede in die bestuur van die Regspaneel – onder andere die samestelling van panele en die neem van bepaalde prosedurele besluite. Hierdie rol dra by tot die verdere uitbouing van die Regspaneel se onafhanklikheid.
In Orania, waar die ideaal van selfbeskikking vir ons baie belangrik is, is dit ’n voorreg dat Orania Regspleging ’n geleentheid bied vir vir die effektiewe oplossing van onderlinge geskille deur van mediasie of arbitrasie gebruik te maak. Tussen Januarie en einde Mei 2025 is daar byvoorbeeld reeds 35 mediasies gehou, waarvan 27 suksesvol afgehandel is, 6 later deur die applikante self gestaak is en net 2 onsuksesvol was. Hierdie prosedure – ’n “versoenende gesprek” onder leiding van ’n onafhanklike bemiddelaar – toon dus ’n besonder hoë sukseskoers.
Regspleging is ook betrokke by die handhawing van goeie orde en die hantering van dissiplinêre sake waar Orania se reëls oortree word. Dissiplinêre verhore vind daarom ook voor die Regspaneel plaas, waar ’n proses van natuurlike geregtigheid gevolg word, soos omskryf in Orania se Dissiplinêre Kode.
Dus, in mediasies, arbitrasies en dissiplinêre verhore, word lede van die Regspaneel gebruik en hul toewyding dra in groot mate by daartoe dat regspleging in Orania op ’n gesonde grondslag geskied. Anders as in Suid-Afrika, waar regsprekers aangewys word deur ’n Regterlike Dienskommissie wat hoofsaaklik deur die president van die regerende party beheer word, word Orania se Regspaneel op ’n wye, demokratiese wyse verkies deur aandeelhouers en verteenwoordigers van alle grondentiteite. Die Regspaneel funksioneer dan ook volledig onafhanklik van die Dorpskantoor (en dus ook van die aanklaer).
Orania Regspleging as instelling val onder die Orania Regsraad, wat saamgestel is uit verteenwoordigers van al die grondentiteite in Orania. Orania Regspleging het gevolglik jurisdiksie oor die hele Orania, maar funksioneer onafhanklik van ander instellings en entiteite. Die Dorpskantoor voorsien slegs operasionele ondersteuning.
Dit is ’n besondere en gewaardeerde mylpaal dat ons regsprosesse sodanig ontwikkel het dat mnr. Westraad en ds. Roets hul onderskeie posisies kan inneem. Dit getuig van die voortgesette ontwikkeling van Orania se eie onafhanklike regsorde. Die kantoor wens hulle hiermee geluk en ons is saam met ons inwoners dankbaar vir die belangrike werk wat die Regspaneel verrig.
Vriendelike groete,
Jan Van Zyl
Hoof : Regspleging
U kan, soos altyd, die Dorpsraad oor enige onderwerp kontak deur die volgende skakel te volg : $ https://myorania.co.za/kontak-ons/$
Indien u dit anoniem wil doen, kan u die Anonieme Forum op die myorania.co.za webwerf gebruik, deur die volgende skakel te volg – $ https://myorania.co.za/anonieme-voorstelle-opmerkings-of-klagtes/$
Die bogenoemde vloedrisikovlakke word as aanduiders van gevaar gebruik:
Vlak GROEN: normale riviervlakke
Vlak GEEL: dreigende gevaar, wees paraat (geen toegang tot die rivier)
Vlak ORANJE: beveilig eiendom en verwyder waardevolle items en diere in geïdentifiseerde gebiede (verhoogde paraatheid)
Vlak ROOI: alle persone in geïdentifiseerde gebiede ontruim teen ʼn aangekondigde tyd
Opkomende inskrywings…
Vir meer kennisgewing inskrywings, gaan na…
Besoek ons kaart om verkeie plekke in Orania te vind…
Druk op nie nommer om te skakel…
Vir meer skakelnommers, gaan na…
Opkomende inskrywings…
Vir meer Nuusbrief inskrywings, gaan na…
Druk op nie nommer om te skakel…
Vir meer skakelnommers, gaan na…
Opkomende inskrywings…
Vir meer kalender inskrywings, gaan na…