Beplanning en Grondgebruik
Beplanning & Grondgebruik
Ons bou die stad!
Die Afdeling: Beplanning en Grondgebruik is ‘n afdeling van Orania Dorpsraad wat gemoeid is met alles wat met die beplanning van die dorp, rakende grondgebruik en die bouplanne van elke perseel, te make het.
Waarom beplan ons?
Orania is besig om meer as net ‘n droom te word; na meer as 30 jaar is dit besig om meer as net ‘n dorp te word – dit word ‘n stad! Meer nog, Orania is ook ‘n baken van hoop ten aansien van die  godsdiens, taal en kultuur van ons, as Afrikaners.  Om hierdie rede moet ons die beplanningstaak nie ligtelik opneem nie, maar met erns bejeën sodat ons hierdie kultuurdorp van ‘n dorp na ’n stad, en uiteindelik na ’n staat, kan neem. Dit is vanselfsprekend dat die najaag van hierdie doel – soos wat dit in ons Afrikaners se gene ingebed is – ordelik sal gebeur. Dit is ook belangrik om die groeitendens van die dorp in ag te neem. Ons beplan dus vooruit om te sien waar daar plekke is wat nog ontwikkel kan word en waar ons nog grond moet aankoop om die dorp se grondgebied uit te brei.
Cobus Pretorius
Departementshoof
Beplanning en Grondgebruik
Verantwoordelikhede:
– Geïntegreerde Ontwikkelingsplan
– Grondgebruik en uitbreidingsbeplanning
– Instandhouding van Grondgebruikbestuurskema
– Instandhouding van GIS
– Bouinspeksies
– “Gesondheidsinspeksies”
Ons planne...
Hoe beplan ons?
Die Afdeling: Beplanning en Grondgebruik maak gebruik van verskeie beleids- en rigtinggewende dokumente soos byvoorbeeld ‘n geïntegreerde ontwikkelingsplan, ‘n ruimtelike ontwikkelingsraamwerk en ’n stedelike ontwerpraamwerk. Die ruimtelike ontwikkelingsraamwerk word elke vyf tot tien jaar hersien en hersaamgestel deur middel van ‘n omvangryke proses waarby verskeie stads- en streeksbeplanners, argitekte, ingenieurs, omgewingskonsultante, komitees en grondinstellings betrokke is. Die ontwerpraamwerk  gee ’n oorsig van hoe ons die ontwikkeling van die groter Orania oor ‘n paar jaar visualiseer. Anders as die sonerings van die grondgebruikbestuurskema, is die ontwerpraamerk ‘n riglyn vir die identifisering van nuwe nodusse en sonerings. Die ontwerpraamwerk dien ook as ‘n riglyn vir toekomstige beplanning met die oog daarop om die dorp so sinvol as moontlik te orden; aantreklik en funksioneel te maak; te sorg dat sonerings nie bots nie; en seker te maak dat daar ‘n bepaalde harmonie tussen die verskillende sonerings is. Die stedelike ontwerpraamwerk sluit by die ruimtelike ontwikkelingsraamwerk aan deurdat dit verdere riglyne en detail verskaf ten opsigte van die estetiese voorkoms van die dorp.
Hoe voer ons hierdie droom binne die raamwerk uit?
Daar is ‘n grondgebruikbestuurskema met ‘n gepaardgaande kaart wat elke perseel se sonering en bepaalde regte aandui. Hierdie skema (of dan reëls vir die persele) word uitgevoer en gekontroleer deur die Afdeling: Beplanning en Grondgebruik, asook deur die Orania- grondgebruiktribunaal wat elke twee weke vergader. Die tribunaal is ‘n komitee bestaande uit kundige lede en dorpsraadamptenare wat elke grondgebruik- en bouaansoek nagaan en beoordeel volgens die skema se reëls, asook volgens nasionale bouregulasies.
Op die soneringskaart kan daar gesien word dat die dorp netjies georden is volgens ’n verskeidenheid van sonerings. Elke sonering is onderhewig aan bepaalde regte en reëls. So byvoorbeeld word woon-erwe (geel op die kaart), waarop slegs woonhuise opgerig mag word, saamgegroepeer. Sake-persele (blou op die kaart), waarop besigheid gedoen mag word, is eweneens saamgegroepeer. Die nywerheids- en kommersiële persele (pers en pienk op die kaart) en ook die landbouhoewes (bruin op die kaart) is ook weer saamgegroepeer. Op hierdie wyse maak die skema seker dat daar harmonie tussen die verskillende sonerings bestaan en dat slegs komplementerende sonerings – en nie botsende sonerings nie – langs mekaar toegewys word.  Sodoende word elke sonering, asook die regte daarop, beskerm en word daar voorkom dat ’n swaarnywerheidsontwikkeling reg langs ‘n rustige woonbuurt verrys. Die skema ken bepaalde regte aan elke sonering toe en bepaal ook die boulyne, dekking, parkeringsvereistes, ensovoorts. Die doel van die skema is dus om uitvoering te gee aan die droom en die ontwerpraamwerk deur duidelike reëls neer te lê.
Daar is verskeie ander sake waaraan die Orania-grondgebruiktribunaal aandag gee.
- Grondgebruikaansoeke
Hierdie aansoeke behels enige wysiging aan ’n perseel, insluitende hersonerings, onderverdelings, konsoliderings en grensverskuiwings.
- Bouplanne
Enige vorm van konstruksie op ’n perseel, insluitende ondergeskikte bouwerk soos afdakke, stoortjies, stoepe, ensovoorts.
Vir die hantering van die volgende sake is daar ’n komitee gestig, naamlik die grondgebruikbestuurskomitee (GGBK). Die Afdeling: Beplanning en Grondgebruik fasiliteer die prosesse en verwys dit dan na die GGBK vir oorweging.
- Besigheidsregistrasies
Enige onderneming wat ‘n omset van meer as R1 000 per maand het, word verplig om by die Dorpsraad te registreer as ‘n besigheid. Die doel hiermee is om seker te maak dat die betrokke besigheid in ooreenstemming met die tipe perseel waarop dit geleë is, bedryf word.
- Klein Reus
Die GGBK is ook getaak om na die Klein Reus om te sien in die rol van ‘n beskermheer van die simbool wat ons almal so na aan die hart lê. Indien iemand beoog om die Klein Reus-embleem te gebruik op sy/haar besigheid se logo, of waar ook al, moet daar aansoek gedoen word sodat die komitee die nodige goedkeuring daarvoor kan gee.
- Tydelike plakkate, baniere en advertensieborde
Ons poog om ons dorp so netjies as moontik te orden. Dit word derhalwe  nie toegelaat dat plakkate en baniere lukraak op enige plek opgeplak of opgerig word nie. Daar word wel goedkeuring verleen om dit vir ‘n bepaalde tyd lank op goedgekeurde plekke aan te bring. Elke perseel mag advertensieborde van slegs ‘n voorafbepaalde grootte oprig.
- Voedselgeskiktheid
Toerisme is ‘n belangrike sektor in Orania se ekonomie en daarom is dit vir ons ook belangrik dat daar noukeurig na hierdie sektor omgesien word om te verseker dat alles op ‘n besondere hoë standaard is. Teen hierdie agtergrond word alle besighede wat met voedsel werk verplig om jaarliks ‘n voedselgeskiktheidsertifikaat te bekom. Die uitreiking van so ’n sertifikaat is onderhewig aan ’n besoek deur ’n gemeenskapsinspekteur wat hom/haar daarvan kom vergewis dat die perseel, en in besonder die kombuis, aan die gestelde vereistes voldoen.
Die Afdeling: Beplanning en Grondgebruik is ook verantwoordelik vir die jaarlikse sensusopname. Die EOP, wat ‘n begroting/doelwit is om die dorp stelselmatig maar doelgerig van ‘n dorp na ‘n stad te ontwikkel, vorm deel van die jaarlikse sensusopname.