Gemeenskapsdienste
GEMEENSKAPSDIENSTE
Ons bou die stad!
Die werksaamhede van die Afdeling:
Gemeenskapsdienste is baie divers, met die klem op die lewering van sagte dienste en estetika. Ons belangrikste werksaamhede sluit die volgende in:
- Algemene netheid en instandhouding van alle openbare ruimtes in Orania.
- Ontwerp, ontwikkeling en instandhouding van openbare tuine.
- Bestuur van alle besproeiingstelsels op openbare terreine.
- Handhawing van netheid op sypaadjies, insluitend grassny, bossiekap en die snoei van bome.
- Instandhouding van alle openbare geboue, soos die dorpskantoor en gemeenskapsaal.
- Bestuur en instandhouding van die dorpswembad.
- Bestuur van die begraafplaas en fasilitering van begrafnisse.
- Instandhouding van die openbare rugbyveld, atletiek-, netbal-, tennis- en jukskeibane.
- Verantwoordelikheid vir Orania Dieresorg, sowel as honde- en kathokke.
- Reël van jaarlikse Orania Karnaval.
- Fasilitering van die verhuring van openbare toerusting en terreine.
- Instandhouding van Sandbaai, wandelpaaie en groenstroke.
- Bedryf van Orania Biblioteek.
- Oorsig oor, en skakeling met die Orania Kliniek, insluitend beskikbaarstelling van die gebou waarin die kliniek gehuisves is.
- Aanpak van bouprojekte wat gemik is op openbare gerief, soos byvoorbeeld fietspaaie.
- Voorbereiding van terreine en geboue vir openbare funksies.
- Estetika-projekte, soos die skep van nuwe parke, tuine en visdamme.
- Roetineskoonmaakdienste by alle dorpsraad-geboue.
- Kweek van plante en maak van kompos vir gebruik in openbare tuine en parke.
Arno Lambrechts
Departementshoof
Gemeenskapsdienste
Verantwoordelikhede:
– Gesondheid
– Maatskaplike dienste
– Biblioteek- en museumdienste
– Parke en ontspanning
– Skoonmaakdienste
– Instandhouding openbare geboue
– Arbeidsontwikkeling en opleiding
– Estetika van dorp en voorkoms
– Dierebeskerming
– Orania Karnaval
Wat is ons take?
Afgesien van bogenoemde is daar feitlik daagliks ‘n wye verskeidenheid van ander take wat ook ons aandag verg. Ons verdeel ons aktiwiteite basies in twee kategorieë, naamlik projekte en roetinetake. Eersgenoemde is gemik op die verbetering van openbare geriewe soos sypaadjies, geboue en sportterreine, terwyl laasgenoemde fokus op die instandhouding van al die terreine waarvoor ons verantwoordelik is.
Gemeenskapsdienste het ongeveer 20 personeellede in diens. Dit is ’n snel groeiende afdeling as gevolg van die toenemende groei van openbare infrastruktuur in Orania. Ons streef na die lewering van wêreldklasdiens en ons kweek werktrots onder ons personeel deur die skep van ’n positiewe en aangename werksomgewing.
Dit verg fyn beplanning om die behoeftes van instandhouding met die aanpak van nuwe projekte te balanseer. Daar is geweldig baie werk om te doen en daarom moet ons personeel altyd optimaal aangewend word om by al ons take uit te kom.
Orania is skoon en netjies
Ons besef dat daar ‘n groot verantwoordelikheid op ons skouers rus. Een van die grootste kenmerke wat Orania onderskei van die meeste ander dorpe is ons trots op ons skoon en netjiese dorp en die verantwoordelike manier waarop ons met die omgewing omgaan. Ten eerste wil ons vir inwoners ’n rede gee om trots te wees op hulle dorp, en terselfdertyd wil ons toeriste as ambassadeurs hier laat weggaan. Ons glo ook sterk daarin om verhoudinge te bou met alle rolspelers wat wil bydra tot die netheid en estetika van Orania. Om hierdie rede vat ons gereeld hande met skole, kerke, maatskaplike instellings, belangegroepe en privaat persone om spesifieke projekte aan te pak tot voordeel van Orania.
Die Afdeling: Gemeenskapsdienste dien met trots en ons verwelkom enige konstruktiewe kommentaar om sodoende ons dienslewering deurentyd te verbeter. Ons erken ruiterlik dat ons nog op vele terreine kan verbeter en daarom luister ons graag na inwoners en besoekers se voorstelle.