Ingenieursdienste
INGENIEURSDIENSTE
Ons bou die stad!
Die Afdeling: Ingenieursdienste is verantwoordelik vir die uitbreiding en onderhoud van Orania se infrastruktuur, insluitende watervoorsiening, riolering, elektrisiteit, paaie, stormwaterhantering, vullisverwydering en die stortingsterrein. Hierdie funksies word opgedeel in die volgende onderafdelings:
- Siviele konstruksie – Die konstruksie van alle nuwe water- en rioolnetwerke en alle opgraderings van bestaande netwerke.
- Elektrisiteit – Die konstruksie van alle nuwe elektriese uitbreidings en onderhoud van bestaande netwerke.
- Paaie en stormwater – Die konstruksie van alle nuwe paaie en onderhoud van bestaande paaie, asook die uitbreiding en onderhoud van die stormwaternetwerk.
- Onderhoud – Onderhoud van die bestaande water- en rioolnetwerke, watersuiwering en rioolverwerking, asook vullisverwydering en die stortingsterrein.
Elkeen van die afdelings, bestaande uit voormanne en algemene tegniese personeel, word deur ’n afdelingshoof bestuur.Â
Andre van Heerden
Departementshoof - Ingenieursdienste
Verantwoordelikhede:
– Elektrisiteit
– Water
– Sanitasie
– Paaie
– Stormwater
– Instandhouding: Geboue
– Instandhouding: Voertuie en toerusting
– Afvalbestuur en herwinning
Ons Projekte!
Watervoorsiening
Orania se water word voorsien vanuit die Oranjerivier. Orania is deur die Departement van Waterwese gelisensieër vir die onttrekking van water uit die rivier. Die rivierwater word deur die Dorpsraad gesuiwer en aan die gemeenskap gelewer deur middel van ’n gravitasienetwerk. Orania is uniek deurdat die dorp ’n dubbelwaterstelsel het. Dit beteken dat rouwater (ongesuiwerde rivierwater) én gesuiwerde water gelewer word. Die rouwater word vir besproeiing gebruik terwyl die gesuiwerde water slegs vir huishoudelike gebruik aangewend word. Gesuiwerde water word daagliks deur die watersuiweringsbeampte getoets om seker te maak dat die watergehalte aan Suid-Afrikaanse standaarde vir drinkwater voldoen. Elke maand neem ons ook watermonsters op verskillende plekke in die netwerk. Die monsters word in ’n laboratorium getoets om te verseker dat die gesuiwerde water aan die vereiste standaard voldoen. Orania se kraanwater is dus skoon en veilig en kan met vrymoedigheid direk uit die kraan gedrink word.
Riolering
Orania se rioolnetwerk bestaan uit ’n konvensionele gravitasienetwerk met verskeie pompstasies. Orania se riool word deur ’n natuurlike oksidasiedamstelsel verwerk. Die oksidasiedamme gebruik natuurlike afbreekprosesse, lug en die son se UV-strale om die water te suiwer. Die oksidasiedamme se uitvloeiwater word gebruik om die walle van die damme te besproei.
Elektrisiteit
Orania het ’n hoof- elektriese aansluiting by ESKOM en vanaf die hoofaansluiting doen die Dorpsraad die verdere verspreiding van elektrisiteit deur die dorp se eie, interne netwerk. Die netwerk bestaan uit oorhoofse mediumspanningkraglyne, transformators en verdeelkaste sowel as bo- en ondergrondse laagspanningnetwerke. Die Dorpsraad het ook ’n gunstige KSIKO-beleid (kleinskaalse ingebedde kragopwekking) wat dit vir aandeelhouers moontlik maak om alternatiewe energie op te wek en aan die Dorpsraad te lewer. Die Orasol-maatskappy wat alternatiewe energie opwek, lewer ook krag aan Orania en daar is al vêr gevorder met die beplanning vir die installering van ’n battery. Die battery sal verseker dat Orania tussen 06:00 en 22:00 beurtkragvry sal wees. As addisionele noodmaatreël is ’n gedeelte van die Orasol-sonplaas só ingerig dat die waterontrekkingspompe direk vanaf die son bedryf kan word. Â
Paaie en stormwater
Orania se paaie wissel van grondpaaie tot paaie met beton-, plaveisel- of teerdeklae. Aangesien die bou van paaie ’n groot uitgawe is, maak dit deel uit van die infrastruktuur wat ons stelselmatig opgradeer. Alle nuwe paaie is plaveisel- of teerpaaie. Die betonpaaie wat in die dorp is dateer uit die dae van Waterwese en op dié stadium is daar geen beplanning om die betonpaaie verder uit te brei nie.
Orania het baie goeie bestaande stormwaterdreinering. Alle stormwater word na die rivier afgevoer. In sommige van die nuwe areas wat nog in ‘n ontwikkelingsfase is, is die stormwaterdreinering nog nie volledig geïnstalleer nie. Opgraderings vind stelselmatig plaas soos wat die ontwikkelings uitbrei.
Beplanning
Deeglike beplanning is noodsaaklik om te verseker dat die infrastruktuur tred hou met die groei en ontwikkeling van Orania. Meesterplanne word opgestel vir al die verskillende afdelings wat dan dien as riglyn vir die uitbreiding en opgradering van infrastruktuur.
Die afdeling slaag daarin om met beperkte hulpbronne wêreldklasdienste te lewer.
Vullisverwydering en die stortingsterrein
Orania is baie trots daarop dat ons ’n klein vullisvoetspoor het en dat ons reeds praktyke gevestig het wat ons in staat stel om vullis te sorteer en te herwin. Die sortering van vullis gebeur reeds by residensiële huishoudings. Die materiaal wat ons by wonings sorteer, is glas, metaal en plastiek (nommer 1 en 2). Die gesorteerde vullis word op die stortingsterrein geberg en verwerk. Herwinbare afval wat plastiek, karton en metaal insluit, word aan die publiek en instansies buite Orania verkoop. Die nie-herwinbare vullis word by die opvularea van die stortingsterrein gestort. Die stortingsterrein is gelisensieer by die Departement van Omgewingsake en word ooreenkomstig bestaande riglyne bestuur.