ORANIA VEILIGHEIDSDIENSTE (OVD)
ORANIA VEILIGHEIDSDIENSTE (OVD)
ons bou die stad!
Op ’n vraag, “Wat doen OVD elke dag?”, is die antwoord maklik … ALLES
OVD bestaan uit vier kantoor- en vyf beheerkamerpersoneellede. Vyf personeellede is per dag aan diens om die dag-tot-dag aktiwiteite van OVD uit te voer, terwyl die ander vier ‘n af-dag het. ’n Tipiese weeksoggend by OVD sal om 07h00 begin. Die personeel wat aan diens is, kom dan in die beheerkamer bymekaar vir ’n oggendinligtingsessie oor wat gedoen moet word en wat alreeds afgehandel is. Nadat die sessie om 08h00 afgehandel is, verloop niks gedurende die dag normaal of volgens roetine nie: mediese uitroepe, klagtes i.v.m. diere, politieke voorvalle, brand en redding – noem dit, en OVD behartig dit.
Lukrake dwelmtoetse maak ’n integrale deel uit van inligting wat ingesamel word deur enige een van die vier kantoorpersoneellede. Sou daar ’n positiewe toetsuitslag gekry word (vanaf ’n verdagte persoon), gaan daar ’n hele ander wêreld oop vir die betrokke OVD-beampte. Dissiplinêre verhore word gehou en die beampte tree op as ’n getuie aangesien hy/sy die dwelmtoets geïnisieer het.
Misdaadvoorkomingsoperasies tydens middernagtelike ure is ook nie ongewoon in OVD-geledere nie. Gewoonlik gaan die operasie gepaard met die uitskryf van boetes, afhangend van die tipe oortreding wat begaan is.
Bo en behalwe die handjievol OVD-personeel is daar ook vrywilligers wat in veiligheidsgroepe werk om ondersteuning aan OVD te gee, waar nodig. Die groepe sien soos volg daaruit: ‘n taakspan; ‘n reaksiespan; ‘n reserwespan; ‘n watervleuel en ‘n Orania-noodhulpspan. Elke groep het ’n nis-area waarin dit opereer en sou die groepe saamwerk, komplementeer hulle mekaar.
Ettiene de Lange
Departementshoof
Orania Veiligheidsdienste
Verantwoordelikhede:
– Bevel en beheer
– Brand- en Nooddienste
– Padreëls
– Openbare Orde
– Veiligheid
– Ondersoeke
– Weerbaarheid
Daar is tye dat lugfoto’s van ’n baie spesifieke area benodig word en ook dan word OVD getaak met die versoek. In die geledere van OVD-veiligheidsgroepe is daar drie opgeleide hommeltuigoperateurs, asook twee ultramoderne hommeltuie om van te kies. Een van die hommeltuie word vir taktiese aanpassing gebruik; die ander een vir harde werk, soos video’s of foto’s en dit kan selfs ’n vrag dra.
Gedurende feesgeleenthede moet OVD ook hulp verleen deurdat hulle die veiligheid van die fees beplan en behartig. Sommige van die veiligheidsgroeplede is Psira-geregistreer. Dit beteken dat hulle tydens feeste of groot byeenkomste aangewend kan word om veiligheid te behartig aangesien hulle ’n kursus, genaamd ‘Event Security’, voltooi het. Die kennis wat hulle op dié manier opgedoen het, kan tydens ‘n groot fees of byeenkoms toegepas word.
Twee jaar gelede het OVD in die nuwe Gemeenskapsveiligheidsentrum ingetrek. Vanaf die beheerkamer (wat 24 uur operasioneel is) regdeur tot by die ontvangsarea word geen beurtkrag ooit beleef nie aangesien die gebou deur drie verskillende kragbronne bedien word. Alle kritiese toerusting (kameras, tweerigtingradio’s, ens.) bly dus aangeskakel en funksioneer tydens beurtkrag om die veiligheid van die dorp te verseker.
Die standpunt, “veilige dorp, veilige streek” word gehuldig deurdat veiligheidsgroepe die streek rondom Orania domineer. Sodoende word ‘n veilige Orania teweeggebring: weet wat in die streek aangaan, domineer dit en jy het ’n veilige dorp.
Geen OVD-personeellid maak ooit op hulself of hul kollegas staat om enige van die bogenoemde take suksesvol uit te voer nie. Hulle leef en opereer in die oortuiging dat alles moontlik is en niks verkeerd kan gaan indien God hul nommer 1-navraag- en krisisbeheerpunt is nie.
Wat behels die OVD bestuur?
Misdaadvoorkoming
Adviseur vir veiligheid en sekuriteit
Weeklikse oudit van voertuigvloot en brandsleepwa
Jaarlikse brandtoerustingoudit
Organisering van misdaadvoorkomingoperasies
Kliëntediens
Bestellings en aankope
Dagboekorganisasie en -beplanning
Na-ure besoeke
Organisering en bespreking van maandelikse vergaderings tussen die kliënt, inwoners en SAPS
Bestuur van personeel, kliënte en inwoners
Verantwoordelike persoon vir alle maatskappyvuurwapens (in- en uitteken van vuurwapens op ‘n daaglikse basis)
Skakeling tussen kliënte, inwoners en dienslewering
Voor–indiensnemingonderhoude sowel as indiensneming van OVD-werknemers
Inligtingsessies vir personeel tydens spesiale operasies
Dag-tot-dag bestuursverrigtinge en verantwoordelikhede
Departementele begrotings
Basiese menslikehulpbronbestuur (griewe , klagtes , verlof , dissiplinêre verhore)
Opleiding en dissiplinering
Reageer op insidente
Samestelling van insidentverslae
Daaglikse terugvoer aan kliënte
Voorbereiding van daaglikse verslae
Aandag aan kliënt- en inwonerklagtes
Bywoning van maandelikse vergaderings
Die ontwerp en implementering van prosedures vir personeel
Die ontwerp, opbou en bewaring van sekuriteitsdokumente en -prosedures
Die hantering van alle sekuriteitsaangeleenthede en korrespondensie tussen die inwoners en bestuur
Hulpverlening aan die bestuur t.o.v. geregtelike aangeleenthede i.v.m. sekuriteit
Die bestuur van alle sekuriteitsverpligtinge van personeel en bestuurders
Verseker dat pligte en reëls deur sekuriteitsamptenare gevolg en geïmplementeer word
Handhaaf die verhouding tussen sekuriteitsgroepe en die bestuur vir optimale samewerking
Saamstel van sekuriteitstatistiek en -verslae vir die doel van algemene vergaderings
Die nagaan en rapportering van foutiewe veiligheidsisteme
Stel sekuriteitsreëls in plek en verseker dat dit gehoorsaam word
Gee advies en lewer insette aan die bestuur oor hoe om sekuriteit te verbeter
Verskaf inligting aan bestuur oor sekuriteitsaangeleenthede om hul op datum te hou
Verleen mediese hulp
Krisisbeheer (bevelvoerder)
Verteenwoordig OVD in verskillende vergaderings
24-uur bystand
Reageer op na-uurse klagtes/delegeer na bystandspersoon
Inisieer weeklikse besigheid/skolebesoeke
Inisieer skooloptredes (bewusmaking i.v.m. dwelms, brand, ens.)
Koördineer veiligheidsaspekte tydens sosiale funksies (karnaval, skooloptredes)
Maandelikse oriënteringsgesprek