062/2026
11 MEI 2026
Geagte Oraniërs,
VERHOOGDE RIVIERVLAKKE
Opsomming: Die Oranjerivier se watervlak by Orania het aansienlik gestyg en is baie gevaarliker as gewoonlik. Die waarskuwingsvlak verander dus na GEEL en toegang tot die rivier word verbied.
Na aanleiding van die wonderlike reën in die opvangsgebiede van beide die Gariep- en Vanderkloofdamme (asook in Orania), het die twee damme se watervlakke aansienlik gestyg. Dit het tot gevolg dat die Oranjerivier se watervlak by Orania ook dienooreenkomstig gestyg het. Gariepdam se invloeitempo was verlede week meer as 4500 m³/s, maar het reeds afgeneem na 2314 m³/s vanoggend. Die dam se vlak het gister sy maksimum volume van ongeveer 121% bereik. Volgens vooruitskattings sal die watervlak oor die volgende vier dae daal na 113%.
Die Gariepdam se uitvloei het natuurlik tot gevolg dat die Vanderkloofdam se watervlak ook gestyg het tot 112% vol vanoggend, en die vooruitskatting is dat die vlak teen 13 Mei 2026 sal toeneem tot 114%, waarna dit weer sal daal. Die huidige uitvloei van ongeveer 2100 m³/s vanuit die Vanderkloofdam het tot gevolg dat die rivier se watervlak by Orania baie hoog is en dat Sandbaai reeds onder water is. Die watervlak het reeds in die paadjie wat afgaan na Sandbaai begin opstoot. Die tempo waarteen die rivier vloei, maak die rivier dus uiters gevaarlik om te gebruik.
Dit is om hierdie rede dat die Gesamentlike Operasionele Sentrum (GOS) die waarskuwingsvlak na GEEL verander.
GEEL: Wees paraat. Geen toegang tot die rivier weens dreigende gevaar.
Die GOS monitor die dam- en riviervlakke daagliks en indien nodig sal die waarskuwingsvlak na ORANJE verhoog word. Op hede is die aanduiding dat ons die einde van die reënseisoen bereik het, en die vooruitskattings dui daarop dat die dam- en riviervlakke in die afsienbare toekoms weer sal daal en normaliseer. Sodra veilige riviervlakke bereik is, sal die GOS die gemeenskap met ʼn opvolgkennisgewing in kennis stel.
Ter herinnering volg die verskillende waarskuwingsvlakke:
Vloedrisikovlakke
Die volgende vloedrisikovlakke word as aanduiders van gevaar gebruik:
Vlak GROEN: normale riviervlakke
Vlak GEEL: dreigende gevaar, wees paraat (geen toegang tot die rivier)
Vlak ORANJE: beveilig eiendom en verwyder waardevolle items en diere in geïdentifiseerde gebiede (verhoogde paraatheid)
Vlak ROOI: alle persone in geïdentifiseerde gebiede ontruim teen ʼn aangekondigde tyd
Ons versoek die gemeenskap om die rivier te vermy tydens die verhoogde riviervlakke.
Vriendelike groete,
GOS Voorsitter
Inwoners kan, soos altyd, die Dorpsraad kontak deur die volgende skakel te gebruik:🔗https://myorania.co.za/kontak-ons/
Indien u dit anoniem wil doen, kan u ‘n opmerking plaas in die Anonieme Forum op ons webwerf: 🔗 https://myorania.co.za/anonieme-voorstelle-opmerkings-of-klagtes/
Opkomende inskrywings…
Vir meer kennisgewing inskrywings, gaan na…
Besoek ons kaart om verkeie plekke in Orania te vind…
Druk op nie nommer om te skakel…
Vir meer skakelnommers, gaan na…
Opkomende inskrywings…
Vir meer Nuusbrief inskrywings, gaan na…
Druk op nie nommer om te skakel…
Vir meer skakelnommers, gaan na…
Opkomende inskrywings…
Vir meer kalender inskrywings, gaan na…