*Nota - Volgens nuwe protokol word opmerking/vrae soms deur admin geredigeer om gepas te wees vir hierdie webwerf en om slegs die essensie daarvan weer te gee*
Opmerking/Vraag: (Opsomming) 'n Boodskap is van 'n Oraniër ontvang wat van opregte omgee vir die welstand van ons gemeenskap getuig. Die kern van die voorstel is dat Orania doelbewus moet belê in die toerusting van jongmense (veral dames), sodat hulle kan ontwikkel tot die sterkste, beste en mooiste weergawes van hulself – vroue wat hul eie waarde ken en met selfrespek, waardigheid en trots hul plek in die gemeenskap volstaan.
Baie dankie vir jou opmerking, jou voorstel en die mooi gesindheid van omgee vir ons gemeenskap wat daaruit spreek. Dis bemoedigend om te sien hoe inwoners uit Christelike naasteliefde oor die welstand van ander in ons gemeenskap besorg is.
Indien jy hierdie onderwerp verder wil bespreek, nooi ons jou graag uit om direk met ons kontak te maak deur 'n e-pos te stuur na inligting@myorania.co.za. Jy sal natuurlik dan nie meer anoniem wees nie, maar ons sal ordenlik oor hierdie belangrike saak kan gesels.
In beginsel dink ons min Oraniërs sal verskil met die sentiment dat ons jongmense – en sekerlik ook baie jong dames – kan baat by gesonde Christelike leiding, mentorskap en toerusting vanuit ons eie Afrikanergemeenskap. Die vraag is egter nie soseer óf hierdie behoefte bestaan nie, maar eerder wáár daardie leiding vandaan behoort te kom. Moontlike rolspelers sluit onder andere huisgesinne, skole, kerke, mentors, rolmodelle en verskeie gemeenskapsorganisasies in.
Op hierdie forum kan ons eintlik net antwoord sover dit die moontlike rol van die owerheid betref.
Die volgende aanhaling uit Orania se konsepgrondwet verduidelik waarskynlik die uitgangspunt wat die owerheid in so 'n geval behoort te volg. Punt 9 beskryf die fokus en omvang van die owerheid se funksies. Die uitgangspunt is dat die owerheid so beperk as moontlik behoort te wees, sodat Oraniërs so vry as moontlik kan wees om self verantwoordelikheid vir hul gemeenskap te neem, sonder dat die owerheid onnodig op terreine inbeweeg wat deur die gemeenskap self hanteer kan word.
Punt 9.3 stel dit soos volg:
"’n Verwagting en eise dat die owerheid op die terrein van die Kerk, privaatsektor of instellings moet inbeweeg, moet aktief teengewerk word, terwyl die owerheid homself daarvan moet weerhou om sodanige terrein te betree."
Ons eerste indruk is daarom dat die inisiatief wat jy voorstel waarskynlik eerder binne hierdie sfeer val as binne die verantwoordelikheid van die owerheid. Dit beteken natuurlik nie dat ons die waarde daarvan gering skat nie – inteendeel. Ons glo juis dat baie van die belangrikste werk in 'n gesonde gemeenskap nie deur die owerheid verrig behoort te word nie, maar deur gesinne, kerke, skole, mentors en ander gemeenskapsinstellings wat daarvoor toegerus en geroepe is.
Ons sien jou voorstel daarom eerder as 'n moontlike gemeenskapsinisiatief as 'n owerheidsinisiatief. Indien daar inwoners is wat 'n roeping hiervoor ervaar en bereid is om verantwoordelikheid daarvoor te aanvaar, is daar ruimte vir hulle om so 'n projek te ontwikkel en uit te bou. Indien dit boonop op 'n wyse geskied wat verskillende kerke en gemeenskapsinstellings kan betrek, kan dit van baie groot waarde vir die hele Orania wees.
Ons wens jou alle sterkte toe met hierdie mooi gedagte en moedig jou aan om dit verder te ondersoek. Indien jy die onderwerp verder wil bespreek of jou idees met ons wil deel, is jy welkom om ons direk te kontak.
Opkomende inskrywings…
Vir meer kennisgewing inskrywings, gaan na…
Besoek ons kaart om verkeie plekke in Orania te vind…
Druk op nie nommer om te skakel…
Vir meer skakelnommers, gaan na…
Opkomende inskrywings…
Vir meer Nuusbrief inskrywings, gaan na…
Druk op nie nommer om te skakel…
Vir meer skakelnommers, gaan na…
Opkomende inskrywings…
Vir meer kalender inskrywings, gaan na…