Jy is heeltemal reg dat kosts vir teerpaaie by verre die grootste rede is hoekom alle paaie in Orania nog nie geteer is nie. Ons dink egter jy is verkeerd deur aan te voer dat mense in Kleingeluk "altyd laaste op die lys" is.
Neem asb die volgende dinge in ag, wat hopelik jou perspektief hieroor sal verander en jou sal laat sien dat die Dorpsreed teen geen gedeelte van die dorp diskrimineer nie en dat Kleingeluk, wat tans die meeste inwoners van enige deel van Orania huisves, eintlik bietjie meer aandag kry as die res wanneer dit by paaie kom.
- Die enigste teerpaaie wat nog ooit vanuit die Dorpsraad se fondse gebou is, was juis die pad vanaf die Eureka kruising tot in Kleingeluk, en nêrens anders in die dorp nie (seker ongeveer 20 jaar gelede al).
- Intussen is die onderste gedeelte van daardie pad (vanaf die sirkel tot by die kliniek) ook weer onlangs opgegradeer, terwyl geen ander pad-projekte in die hele dorp uit die Dorpsraad se begroting gekom het nie.
- Die Kleingeluk sirkel is ook deur die Dorpsraad opgegradeer.
- Daar word elke jaar verdere gedeeltes van Kleingeluk se randstene ingesit, en stormwaterhantering word verbeter vir plekke waar gereeld water opgedam het, so die bruikbaarheid van Kleingeluk se huidige grondpaaie word heeltyd verbeter.
- As dit nie was dat Orania gekoop is met die betonpaaie reeds daar nie, sou alle paaie in Orania waarskynlik steeds grondpaaie gewees het, want dit is tog belangriker om wesenlike groei in groot-infrastruktuur (elektrisiteit, watervoorsiening, riolering, stormwaterhantering ens) te befonds, as residensiële paaie.
- Alle ander teerpaaie wat in ander gedeeltes van Orania gelê is oor die afgelope klompie jare, is deur die privaat ontwikkelaars van daardie woongebiede self betaal en het dus glad nie vanuit die Dorpsraad se begroting gekom nie (geen diensteheffings wat deur inwoners betaal word is daarvoor aangewend nie).
- Die huidige opgradering van die Servituutpad is die enigste ander teerpad wat op enige plek behalwe vir Kleingeluk (soos hierbo verduidelik), met Dorpsraad geld gelê word. Daardie is by verre die besigste pad in die dorp en het 'n invloed op die hele gemeenskap, so dit maak sin dat dit aandag sal geniet voordat klein residensiële strate aan die beurt kom.
- Die ander projekte waarna jy verwys waar geld "gemors" is, was ook nie betaal vanuit die Dorpsraad se fondse nie, maar het vanuit ander instansies/ontwikkelaars gekom. Die trappe was 'n OKeR projek en die Kruger-standbeeld is 'n OOM projek. Dus weereens - geen heffings van enige aard wat deur inwoners betaal word, is daarvoor aangewend nie. En terloops, ons stem glad nie saam dat dit geldmors is om uitstekende kulturele projekte in die dorp te voltooi nie - behalwe vir die inherente kulturele waarde daarvan, is dit ook noodsaaklik vir die geloofwaardige opbou van 'n gemeenskap wat op kultuur-basis (nie ras nie) geskoei is en wat dus die wetlike reg het om onafhanklikheid op te neem. Dit kan selfs geargumenteer word dat as mense uit beginsel teen enige kulturele ontwikkeling gekant is, hulle ook gekant is teen Orania se vryheidsideaal.
- Voordat die kleiner residensiële paaie in Kleingeluk geteer gaan word, sou ons dink die opgradering van die pad tussen die Eureka-kruising en die Kleingeluk-sirkel, asook die Oewerpad (wat beide groot hoeveelhede verkeer hanteer), sal waarskynlik voorrang geniet. Maar natuurlik moet die OAB-direksie nog opkomende begrotings goedkeur, so geen besluite is nog daaroor geneem nie.
- Al die inwoners van die oewer gebied het al oor etlike jare groot hoeveelhede ekstra heffings betaal vir spesifiek die teer van die grondpad af rivier toe, terwyl geen ander gedeelte van die dorp sulke spesifieke bydraes gemaak het nie, en die direksie sal ook daardie feit in ag moet neem wanneer hulle hul besluite oor die volgende begrotings neem.
- Daar is ook ander gedeeltes van Orania (Rooipad) wat steeds grondpad is en waarvoor daar nog geen planne is om dit te teer nie, so Kleingeluk is beslis nie uniek in daardie sin nie en sal in der waarheid seker lank voor daardie gedeeltes geteerde strate hê.
- Die teer van al die residensiële paaie in Kleingeluk sal seker rofweg minstens R5 miljoen+ kos (miskien dalk nader aan R10 miljoen?), so indien dit bv by die huidige begroting ingesluit moes gewees het, sou dit beteken het dat iets soos die water-projek vir die hele Orania nie gedoen kon word nie. In ons opinie is die water belangriker vir alle inwoners, wanneer mens ongelukkig moet kies tussen sulke projekte.
Ons sal baie graag hierdie punte persoonlik met jou wil bespreek en ek (die kommunikasiebeampte vir die Dorpsraad) wil jou graag uitnooi vir 'n lekker koppie koffie om hieroor te gesels. Vir dit om te gebeur, sal jy egter jou identiteit bekend moet maak deur jou kontak-details te stuur na inligting@myorania.co.za . Ek gee my Orania-belofte dat daar geen sprake van enige nadeel vir jou sal wees om hierdie tipe kritiek openlik te bespreek, eerder as om dit anoniem te doen nie.
Hoop om binnekort van jou te hoor!