In n jaar wat die wereld ons volk meer erkenning gee as ooit tevore shrink Orania se populasie?
Ons nodig drasties n plan? Hoe gaan ons beleggings in Orania kry?
Dankie
Ons stem saam dat die huidige internasionale aandag wat ons volk se situasie in Suid-Afrika geniet, allerhande energie losmaak wat moontlik tot ons voordeel kan strek.
Dit moet egter onthou word dat die negatiewe sentiment teenoor ons ook dienooreenkomstig vermeerder het. Dit is dus nie korrek om te aanvaar dat iets soos die huidige Amerikaanse administrasie se ondersteuning noodwendig Orania se getalle sal vermeerder nie. Inteendeel, dit sal waarskynlik juis die teenoorgestelde uitwerking hê, met heelwat van ons mense wat daarheen sal verhuis (as vlugtelinge) indien dit vir hulle moontlik is. Dit is natuurlik vir ons hartseer wanneer Afrikaners – en veral Oraniërs – besluit om nie meer verbonde te bly aan ons eerbare stryd vir vryheid in ons moederland nie, maar ons veroordeel ook nie diesulkes weens hul persoonlike besluite nie. Die feit dat 2026 'n Suid Afrikaanse verkiesingsjaar is, gaan ook heel waarskynlik die retoriek teenoor ons baie verskerp (politici glo mos altyd hulle wen stemme deur Orania verkeerdelik as rassisties en pro-apartheid te beskryf, wat die media dan baie gretig is om op te blaas vir sensasie), wat moontlik nie goed sal wees vir nuwe volksgenote om na Orania te trek nie, want hulle kan afgeskrik word deur wat hulle as 'n gevaarlike situasie beskou. Gelukkig is dit 'n situasie waaraan Oraniërs reeds gewoond is en waaraan ons, in afhanklikheid van ons God, onsself nie onnodig steur nie.
Wat beleggings in Orania betref om groei te bewerkstellig, is dit ’n saak wat deurgaans baie aandag geniet, sowel onder die dorp se leierskap as onder ander inwoners wat besorgd is oor ons toekoms. Ons is dit dus met u eens dat planne vir die toekoms, veral in moeilike tye soos nou, noodsaaklik is. Daarom is reeds heelwat planne in plek en daar word ook heeltyd nuwes beraam, maar mens kan darem ook in ag neem dat daar al klaar baie dinge prakties aan die gang is wat die plaaslike ekonomie ondersteun en versterk. OOM se groot ontwikkelings skep byvoorbeeld baie werksgeleenthede, terwyl ons opleidings-sektor uitstekend vaar en die getal studente en skoliere baie gesond groei (en na verwagting sal aanhou groei) wat natuurlik ’n rimpel-effek het en weer talle ander geleenthede vir Oraniërs skep. Daar is ook groot projekte in die beplanningsfase vir die medium- en langtermyn, wat beteken dat daar in die volgende jare beduidende geleenthede in die konstruksiebedryf behoort te wees. Mens kan ook hierby voeg dat Orania se gasvryheid-sektor baie sterk is en 'n groot getal inwoners van 'n inkomste voorsien. Vir 'n klein dorpie soos ons om meer as dertig aktiewe gastehuise te hê, wat elkeen 'n bestaan maak, dui op 'n gesonde ekonomiese sektor wat inkosmte uit toerisme verdien.
’n Ander sektor wat reeds goed doen, en wat na verwagting binnekort nog sterker sal groei, is mense wat vanuit Orania afstandwerk aanlyn verrig. Die groep inwoners wat vanuit Orania goeie inkomste via die internet verdien, tel reeds etlike dosyne en groei aanhoudend. Dit het ’n besonder positiewe uitwerking op ons dorp, aangesien sulke inwoners maandeliks geld van buite af in ons plaaslike ekonomie inbring, wat sterk tot ons voordeel strek. As ons dorp nog letterlik honderde sulke inwoners kan bykry, sal dit 'n ongelooflike goeie ding vir almal wees. Elke Oraniër kan help hiermee deur op enige gepaste tyd die mite dat ons internet te swak is vir internet-beroepe teen te staan. Soos hierbo genoem, is daar reeds vele inwoners wat baie suksesvolle beroepe het wat totaal afhanklik is van 'n vinnige en stabiele internet verbinding, so die feit dat hulle dit sonder probleme regkry, dien as verwysing vir ander mense dat bewerings tot die teendeel nie korrek is nie.
Ten slotte wil ons noem dat, soos dikwels in Orania die geval is, inwoners nie sit en wag dat die owerheid met al die antwoorde vorendag kom nie. Ons is trots op ons mense wat gekenmerk word daardeur dat hulle self verantwoordelikheid neem vir hul eie welstand (asook die welstand van die hele gemeenskap) deur hul goeie idees met andere te bespreek en aan hulle te “verkoop”, sodat dit ’n positiewe en blywende impak op ons toekoms kan hê.
Opkomende inskrywings…
Vir meer kennisgewing inskrywings, gaan na…
Besoek ons kaart om verkeie plekke in Orania te vind…
Druk op nie nommer om te skakel…
Vir meer skakelnommers, gaan na…
Opkomende inskrywings…
Vir meer Nuusbrief inskrywings, gaan na…
Druk op nie nommer om te skakel…
Vir meer skakelnommers, gaan na…
Opkomende inskrywings…
Vir meer kalender inskrywings, gaan na…