040/2025

BOODSKAP VANAF BURGEMEESTER AAN ALLE ORANIËRS

Uitgereik op: 10 March 2025
Uitvoerende Hoof

1

BOODSKAP VANAF BURGEMEESTER AAN ALLE ORANIËRS

Aan alle Aandeelhouers en Inwoners,

BOODSKAP VANAF BURGEMEESTER AAN ALLE ORANIËRS

Opsomming : Alle Oraniërs word versoek om die onderstaande boodskap oor Orania se ontstaan, huidige posisie en toekomstige strategie, te lees.

Geagte mede-Oraniërs ,

‘n Dinamiese werklikheid

Orania word vanjaar 34 jaar oud! Ons het oor die afgelope aantal jare gegroei van ‘n idee tot ‘n dinamiese werklikheid. Orania verkeer byna weekliks in die kalklig. Dit is nie meer vreemd dat Orania tot vyf spanne internasionale joernaliste op een dag ontvang nie.

Internasionaal is daar al hoe meer belangstelling in Orania omdat ons oor jare suksesse kon toon en steeds op ons oorspronklike beginsels voortbou. Hierdie tendens het oor tyd ontwikkel omdat die Orania-idee op enige verhoog sonder skroom verduidelik kan word.

Waar begin die idee van Orania?

Die idee van Orania het met die genade van ons Skepper by visionêre Afrikaner-leiers ontstaan.

Die leiers wat reeds in die sewentigerjare van die vorige eeu diep nagedink het oor ons toekoms, was mense soos prof Carel Boshoff en dr Chris Jooste. Hulle het veral die demografie in Suid-Afrika oorweeg en daarvolgens baie duidelik aangetoon dat, as Afrikaners as ‘n volk wil oorleef, hulle opofferings sou moes maak. Hierdie opofferings het ingesluit om na die laagbevolkste gebied in Suid-Afrika te verhuis omdat hier in die Noord-Kaap ‘n “demografiese gat” bestaan het. Die idee was dat Afrikaners hier kan konsentreer en ‘n meerderheid kan word sodat hulle uiteindelik oor hulleself sal kan regeer.

Eie arbeid in ons streek

Die voorwaardes wat die destydse Suid-Afrikaanse Buro vir Rasseaangeleenthede (SABRA) en die Afrikanervryheidstigting (AVSTIG) vir Afrikaners se oorlewing gestel het, was eie grond, eie arbeid en eie instellings.

Hierdie voorwaardes is noodsaaklik omdat Afrikaners ‘n baie klein minderheid in Suid-Afrika geword het en daarom in Suid-Afrika baie min regte oorgehou het. Diep gegronde navorsing het die idee van Orania voorafgegaan en daarom kan Orania onderskei word van ander oplossings wat in die res van Suid-Afrika bedink is. Ons vergeet dit soms as ons uitdagings moet hanteer en gryp dan terug na stelsels wat ons vantevore gebruik het, of wat aan ons bekend is, maar wat in die meeste gevalle nie gewerk het nie.

Orania is as gemeenskap veilig omdat ons ons eie arbeid verrig en daardeur slegs Afrikaners in Orania vestig. Indien ons oor ‘n streek beskik, waar ons steeds net Afrikaner-arbeid gebruik sal dit noodwendig op die veiligheid in die streek ‘n groot positiewe invloed hê. Vir die meeste van ons is die idee van eie arbeid relatief nuut, en ons het dikwels nog nie goeie begrip vir die voordelige gevolge daarvan nie. Een van die belangrikste gevolge van eie arbeid is veiligheid. Laat ons onsself gereeld daaraan herinner!

Orania het ‘n beproefde, werkende idee en ons moet dit in ag neem as die omstandighede rondom ons onstuimig raak.

Suid-Afrika is koorsig!

Amerika het genies en nou is Suid-Afrika vuurwarm van die koors. Beskuldigings word heen en weer geslinger en volgens mediaberigte en sosiale media word die wig al verder tussen rassegroepe in Suid-Afrika ingedryf. Die ANC se gewildheid is volgens peilings die laagste nog. En internasionaal is die ANC nie meer die liefling nie. Hoe groter die krake, hoe meer ekstreem raak die uitsprake deur sommige parlementslede en die publiek oor die algemeen. Daar word nou kliphard na ‘n sondebok gesoek en ons lees reeds dat afgevaardigdes van die Solidariteit Beweging en AfriForum van hoogverraad aangekla is omdat hulle Amerika besoek het en met staatsdepartemente in gesprek getree het. Orania stuur ook binnekort ‘n afvaardiging na Amerika.

Orania se idee staan trots!

Orania het oor die afgelope meer as dertig jaar hard daaraan gewerk om ‘n tuiste vir Afrikaners te vestig. Ons strewe was van die heel begin af: Vryheid vir Afrikaners. As ‘n mens nou weer die navorsing en dokumente van die visioenêre leiers wat die Orania-idee uitgedink het, lees, is ‘n mens opnuut beïndruk deur die suiwerheid van hulle denke. Maar veral, dat ons idee oor tyd getoets is op talle wêreldverhoë en dat ons nie te lig bevind is nie.

Apartheid was nie die antwoord nie

Die leiers van SABRA en AVSTIG het baie vroeg reeds aangedui dat apartheid nie volhoubaar is nie en dat Afrikaners vir hulleself ‘n heimat sou moes skep. Prof Carel Boshoff en dr Chris Jooste het van die begin af daarop gestaan dat die Orania-idee nie sou slaag as ons teen ander rasse diskrimineer nie. Prof Boshoff skryf in sy biografie, Dis nou ek, Carel Boshoff op bladsy 407:

  • “Wat Orania wel skade kan aandoen en selfs ons ideaal kan vernietig, is rasvyandige voorvalle en optredes. Daarop moet ons bedag wees en met ons kinders daaroor praat. OBD self moet daarop bedag wees in sy verkope en beskikbaarstelling van grond. Nie alleen bots dit met die Suid-Afrikaanse Grondwet nie, maar ook met die ooreenkoms wat elke inwoner onderteken het.”
  • “Ek beskou die aangeleentheid van soveel erns dat ek dit eerder sonder aansien des persoons, self by die Menseregtekommissie sal aanmeld as daar ná onderhandelinge nie daarvan afgewyk word nie. Ons kan dit net nie bekostig nie.”

Só skryf prof Carel Boshoff self.

Apartheidswette het die vorige bedeling van Suid-Afrika nie gered nie. Daardie Suid-Afrika het verdwyn. Tans probeer die regering in Suid-Afrika weer voordeel trek uit raswette wat sekere groepe bo ander bevoordeel. Hierdie diskriminasie is besig om die huidige regering en selfs die huidige politieke bedeling te laat sink.

In Orania moet ons deeglik kennis neem daarvan en baie versigtig wees met ons optrede. Ons wil nie ‘n stelsel herhaal wat nou al bewys het dat dit nie werk nie. Ons kan ook nie bekostig om ons ideaal te kelder nie, veral nie met emosionele optrede nie.

‘n Nudisteoord vir Orania?

Beau Brummel het Orania in 2007 besoek met die doel om ‘n nudisteoord vir wit mense in Orania op te rig. Prof Carel Boshoff het hom dadelik geskakel en aan hom verduidelik dat rassiste soos hy nie in Orania welkom sou wees nie.

Dit was van die begin af duidelik dat Orania nie op haat vir ander volke gebou sou word nie en dít was die belangrike beginsel wat uiteindelik vir Orania ‘n deurbraak gemaak het. Ons kan die Orania-idee met enige iemand op enige plek bespreek en met selfvertroue verdedig, want dit is nie op rassehaat gebou nie. Bloot op die liefde vir ons eie.

‘n Volk in trauma

Ons ganse geskiedenis word gekenmerk deur trauma. Ons het ontstaan uit Hugenote, Nederlanders en Duitsers wat vir hulle geloof en vaste beginsels na die Suidpunt van Afrika gevlug het. Daarna moes die Vryburgers korrupsie aan die Kaap hanteer. Tydens die Groot Trek het geweldige tragiese gebeure plaasgevind. ‘n Klein, wordende volkie moes die Groot Droogte en die Runderpes hanteer. Die Eerste en Tweede Vryheidsoorloë het hulle eie gevolge gehad. Die Eerste Wêreldoorlog en die Rebellie van 1914 het diepgewortelde invloede op ons gehad. Die groot Depressie en die gevolglike armoede het ons volk verder getraumatiseer. Kort hierna het die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek wat sy eie letsels gelaat het. Uiteindelik kry ons ‘n Republiek in 1961, maar baie gou is ons betrokke by die Grensoorlog. In 1994 beleef ons dat ons álle mag, polities en militêr, verloor.

Al hierdie gebeure dra daartoe by dat ons ‘n volk in trauma is, ‘n volk wat diep gewond is en selfs nie die skade bereken het wat apartheid aan ons gedoen het nie. Hierdie trauma veroorsaak dikwels, dat ons met reg, leiers wantrou en dat ons onsself wil afsluit van die wêreld om bloot veilig te kan bestaan.

Natuurlik mag ons van mekaar verskil oor verskillende sake, maar kom ons grond verskille op goeie argumente.

Volkstaat of veiligheidsoord?

Waarheen is Orania op pad? Hoe lyk ons toekoms oor vyf of tien of vyftig jaar? Is ons ‘n klein afgeslote sekuriteitsdorpie met goeie toegangsbeheer waar ‘n groepie Afrikaners kan wegkruip vir die buitewêreld?

Of is ons ‘n bruisende republiek wat ‘n heenkome bied aan die Afrikanervolk waar ons veilig is omdat ons, ons Skepper in vryheid kan aanbid? Vryheid, nié veiligheid nie, word vir volke as ‘n opdrag in die Bybel gegee en die vryheid wat ons in die eerste plek na moet strewe, is dat ons God Drie-Enig moet dien in alles wat ons doen. Ook in die republiek wat ons besig is om op te rig.

Hoe lyk ons toekomstige republiek? Sien u ook die groot internasionale lughawe, die ambassades van lande oor die wêreld wat ons Afrikanervolk erken? Sien u internasionale uitruilstudente wat aan ons universiteite kom studeer omdat ons die beste opleiding in die wêreld bied? Sien u mediese sentrums wat wêreldklas operasies uitvoer? Sien u dat ons voorlopers is in landbounavorsing? Sien u internasionale rugbyspanne wat teen die Orania Krygers uitdraf? Sien u die beste moontlike geleenthede vir ons kinders en kleinkinders in Orania? Ek is so diep opgewonde oor die toekoms waaraan ons bou.

Ons Vader in die hemel het hierdie roeping aan ons gegee dat ons ‘n plek vir ons nageslag moet bou, Hy wat die tye en plekke van volke vasstel, Hy het aan ons ‘n roeping gegee wat ons nie kan weier nie.

In Orania bely ons dat Christus die Redder is van alle volke en nasies en dat Hy die Bemiddelaar is wat volke met ons Hemelse Vader versoen. Dit is in Christus wat ons hoop vind vir ‘n vrye toekoms hier aan die Suidpunt van Afrika.

Sedert die tagtigerjare was daar verskeie politieke voorstelle en pogings ten opsigte van oplossings vir Afrikaners. Die enigste idee wat die toets van die tyd deurstaan het, is die kleine Orania. Orania is al wat ons het, laat ons dit nie deur ons optrede in gevaar stel nie.

Maar watter ongelooflike voorreg om te kan werk aan hierdie vryheidsideaal. Is dit ook die ideaal wat in u hart brand? So ‘n ideaal vra opoffering en fyn voetwerk. Ons benader dit anders as wat ons die toekoms van ‘n veiligheidsoord sou benader.

Hoe lyk veiligheid vorentoe?

Die waarheid is dat nie een van ons môre se koerant het nie. Ons weet dus nie wat in die toekoms gaan gebeur nie. Ons weet wel dat die emosies tans hoog loop en dat ‘n vonk in die kruitvat ‘n vlammehel tot gevolg kan hê.

Ons ontken nie dat rassehaat in Suid-Afrika tans aangeblaas word nie, maar dit is nie ons geveg nie.

Ons kan almal saamwerk om OVD te versterk en Orania meer weerbaar te maak. Hou oë en ore oop, meld enige iets wat u ongemaklik maak onmiddellik by OVD aan. Bied aan om by OVD te help met veiligheidsdienste en om patrollies te ry. Doen moeite om jouself en jou gesin weerbaar te maak. Bid sonder ophou.

Maar moenie vrees nie!

In moeilike tye is dit maklik om vreesbevange te raak. ‘n Mens sien dat daar op groepe vrees gestook word en dat die berigte wat op sosiale media gedeel word, vrees aanjaag. Onthou maar dat vrees van die duiwel af is; moet nie die duiwel se werk vir hom doen nie.

Kom ons vertrou in goeie en slegte tye op God Almagtig, dit is Hy wat ons in ons nood sal raaksien en ons sal uitred as dit Sy wil is. Kom ons bou voort op die suiwer beginsels wat AVSTIG sedert sy ontstaan as basis gebruik het. Daar is so baie werk om te doen!

Ten slotte

Waarmee is ons besig? Handelinge 5: 38 en 39 – want as hierdie voorneme of hierdie werk uit mense is, sal dit vernietig word; maar as dit uit God is, kan julle dit nie vernietig nie – dat dit nie bevind word dat julle selfs teen God stry nie.

Knegte van die Allerhoogste, teen die hele wêreld vry!

Vriendelik die uwe,

Lida Strydom

Burgemeester

Inwoners kan, soos altyd, die Dorpsraad kontak oor enige onderwerp deur die volgende skakel te volg : https://myorania.co.za/kontak-ons/

Indien u dit anoniem wil doen, kan die volgende skakel na ons Anonieme Forum gebruik word : https://myorania.co.za/anonieme-voorstelle-opmerkings-of-klagtes/

Kennisgewings

Opkomende inskrywings…

047/2025
(Uitgereik op: 20 March, 2025)
Ingenieursdiente
046/2025
(Uitgereik op: 18 March, 2025)
Beplanning en Grondgebruik
045/2025
(Uitgereik op: 14 March, 2025)
Uitvoerende Hoof

Vir meer kennisgewing inskrywings, gaan na…

Orania Kaart

Besoek ons kaart om verkeie plekke in Orania te vind…

Algemene Skakels

Druk op nie nommer om te skakel…

Orania Veiligheids Dienste

Orania Beweging

OVD Watervleuel

Regspleging

Orania Ontwikkelingsmaatskappy

OSK

OSK Koöperatiewe Bank

Orania Sakekaner

Radio Orania

Vir meer skakelnommers, gaan na…

Nuusbriewe

Opkomende inskrywings…

01/2024
(Uitgereik op: 2 May, 2024)

2

Vir meer Nuusbrief inskrywings, gaan na…

Noodnommers

Druk op nie nommer om te skakel…

Orania Veiligheids Dienste

Orania Hospitaal

Huis Dokter

Orania Ambulaans

Elektrisien

Loodgieter

Vir meer skakelnommers, gaan na…

Kalender

Opkomende inskrywings…

22
Mar
Saturday 22 March, 2025
9:00 am
28
Mar
Friday 28 March, 2025
- 29 March, 2025
Algemeen
30
Mar
Sunday 30 March, 2025
- 30 March, 2025
Algemeen
4
Apr
Friday 4 April, 2025
- 6 April, 2025
Algemeen

Vir meer kalender inskrywings, gaan na…