220/2025
25 November 2025
Geagte Oraniërs,
NAVRAE OOR SIVIELE REGSPROSESSE BUITE DIE GEMEENSKAP SE EIE INSTELLING
Opsomming : Let asseblief op die volgende verduideliking oor die verskille tussen Orania se amptelike regsplegingsfunksie en ander nie-amptelike gebeurlikhede op daardie gebied.
Orania Regspleging het ’n paar navrae en ook informele klagtes ten aansien van buitegeregtelike prosesse wat nie deur Regspleging bestuur word nie, ontvang.
Die navrae soos ontvang behels die volgende:
1. Daar word gestel dat een of ander forum enkele inwoners aansê om in ’n plaaslike kroeg te verskyn en op meestal siviele eise wat by die betrokke forum aangemeld is te antwoord.
2. In gevalle waar hul dan wel opgedaag het, was hul ten aanskoue van ander persone geïntimideer en/of gemanipuleer om erkennings van skuld of skikkingsooreenkomste te onderteken.
3. ’n Afskrif van ’n voorbeeld van voormelde erkenning van skuld is aan Regspleging oorhandig. Alhoewel dit vanuit ’n regsoogpunt wesenlik gebrekkig is, spreek die inhoud daarvan wel van ’n aanmaning met gevolglike dreigemente indien die ontvanger daarvan nie in terme daarvan sou presteer nie.
Die navrae en ook klagtes soos ontvang was daarop gerig om meer duidelikheid rakende die verpligtinge wat op inwoners rus, asook hul belange in hierdie verband, te verkry.
Dit is, gegewe hierdie navrae en soos dit aan Orania Regspleging oorgedra is, belangrik om die volgende algemene riglyne en inligting onder inwoners se aandag te bring:
1. Die vermelde pogings om inwoners aan sodanige proses soos uitgelig te onderwerp, is nie deel van Orania Regspleging nie. Daar rus dus geen verpligting op enige inwoner om aan sodanige proses deel te neem nie, en geen inwoner of forum kan enige ander inwoner verplig om dit te doen nie.
2. Dit staan wel enige inwoner vry om ten aansien van enige dispuut direk met ’n ander persoon in verbinding te tree in die poging om die geskil by te lê. Dit geskied egter wedersyds vrywillig en nie onder dwang nie. Hierdie benadering word trouens aangemoedig, aangesien dit dikwels verhoed dat geskille onnodig eskaleer. Enige instelling of forum wat geskille op ’n eerlike wyse wil help besleg, op voorwaarde dat dit met billikheid, regverdigheid en deursigtigheid geskied, se pogings word verwelkom.
3. Geen persoon kan gedwing, gemanipuleer of geïntimideer word om ’n erkenning van skuld of ’n skikkingsooreenkoms te onderteken nie. Dit is eenvoudig onwettig en boonop nie die Christelike wyse waarop ons geskille in Orania wil bylê of graag wil sien bygelê word nie.
4. Orania Regspleging se mediasieproses is sodanig ingerig dat die deelnemers daaraan in privaatheid, met ’n bemiddelaar wat spesialisopleiding ontvang het, sonder enige vorm van dwang vrywillig tot ’n skikking kan kom. Die onderskeie partye geniet die volle geleentheid om hul sake te stel, en billikheid en regverdigheid is in die proses deurlopend belangrik.
5. Dit is belangrik by die aard van ’n siviele geskil dat die wesenlike vereistes daarvan na behore verstaan word. In hierdie opsig sal ’n deliktuele eis anders benader word as wat met byvoorbeeld ’n kontraktuele- of arbeidsgeskil die geval is. Orania Regspleging staan in mediasies ten volle onafhanklik en laat die uitkoms daarvan in die hande van die onderskeie partye, maar bied gereeld die nodige ondersteuning aan die partye tot ’n geskil om sorg te dra dat hul onderskeie eise of verwere binne die konteks van die aard van verskillende geskille tot ’n suksesvolle uitkoms en regstegnies korrekte skikking sal bydra.
Binne die Westerse regstradisie het waardevolle beginsels oor eeue heen ontwikkel wat geregtigheid onderskryf. Orania Regspleging is trots daarop dat ons mediasieprosesse geskoei is op onderliggende beginsels van regverdigheid, billikheid, gelyke geleenthede aan elke party en vrywillige skikkings wat nie deur dwang voorafgegaan is nie. Dit is trouens wat ’n mediasie beoog: naamlik om versoening tussen partye wat in ’n geskil is, te fasiliteer.
Ons deelname aan en ondersteuning van Orania Regspleging se prosesse is ook nie slegs ’n poging om geskille onderling te besleg sonder dat dit vir inwoners nodig is om duur hofprosesse van stapel te stuur nie, maar is ook binne ons ideaal van selfbeskikking ’n gevestigde proses en instelling wat gesonde regsbeginsels op ’n wettige en volhoubare wyse in ons eie midde verder bevorder.
Inwoners is welkom om ten aansien van verdere navrae asook enige siviele geskille wat nie onderling uitgesorteer kon word nie, die Kantoor vir Regspleging te nader.
Met dank,
Jan van Zyl
Hoof: Regspleging
Opkomende inskrywings…
Vir meer kennisgewing inskrywings, gaan na…
Besoek ons kaart om verkeie plekke in Orania te vind…
Druk op nie nommer om te skakel…
Vir meer skakelnommers, gaan na…
Opkomende inskrywings…
Vir meer Nuusbrief inskrywings, gaan na…
Druk op nie nommer om te skakel…
Vir meer skakelnommers, gaan na…
Opkomende inskrywings…
Vir meer kalender inskrywings, gaan na…