114/2025
13 Junie 2025
Geagte Aandeelhouers en Inwoners,
ONTOELAATBARE ADVERTENSIEBORDE
Opsomming : Inwoners word graag daarop gewys dat die reëls rakende die oprigting van advertensieborde nagekom moet word. Dit is vir die GGBK jammer dat daar onlangs, ten spyte van ‘n lang proses waar samewerking versoek is, verdere stappe in die verband teen twee inwoners geneem moes word. Die GGBK spreek graag hul dank uit teenoor die oorgrote meerderheid inwoners wat daarmee saamwerk om OAB se wetlike verpligtinge na te kom en die kulturele grondslag van Orania te beskerm.
As ’n aandeelblok is daar ’n wetlike verpligting op OAB om die eiendom onder sy beheer na behore te bestuur en om riglyne en bepalings, soos van toepassing, konsekwent toe te pas.
Alhoewel OAB, te danke aan die goeie samewerking van die meeste inwoners, oor die algemeen minder reëls en regulasies as ander dorpe en stede in Suid-Afrika het, is daar wel sekere basiese aspekte waar OAB daartoe verplig is om die nodige reëls daar te stel en deur te voer.
Een van daardie aspekte is ten aansien van advertensie- en verwante borde of tekens wat op OAB-eiendom opgerig word. Die reël in hierdie opsig is dat, vir enige sodanige borde of tekens wat ’n inwoner graag wil oprig, daar eers die nodige toestemming daarvoor by die Grondgebruikbestuurskomitee (GGBK) verkry moet word.
Die GGBK oorweeg aansoeke vir die oprig van ’n bord of teken om seker te maak dat dit voldoen aan soneringsvereistes, dat die groottes en aard daarvan binne die grondgebruikbestuurskema se toelaatbare bestek val, en dat die voorgenome bord of teken nie in konflik met Orania se Christelike karakter en kulturele grondslag is nie.
Die GGBK poog om inwoners van hulp te wees en volg, in gevalle waar die vereistes vir die oprig van ’n bord of teken nie nagekom word nie, ’n proses waar met die betrokke inwoner in gesprek getree word en vervolgens bygestaan word om sorg te dra dat aan die nodige vereistes voldoen word.
Dit was vir die GGBK dan ook jammer dat daar onlangs verdere stappe teen twee inwoners geneem moes word, waar hulle ten spyte van ’n lang proses versuim het om aan die nodige reëls in verband met die oprig van borde en tekens te voldoen.
In die betrokke geval het inwoners dit onder die Dorpskantoor se aandag gebring dat daar ‘n bord by ‘n spesifieke aandeleblok opgerig is, wat nie aan Orania se kulturele grondslag voldoen nie. By verdere ondersoek is vasgestel dat daar nie voorafgoedkeuring vir die betrokke bord verkry is nie. Die GGBK het derhalwe vanaf Augustus 2023 met velerlei korrespondensie en gesprekke die twee inwoners wat die bord opgerig het probeer aanmoedig om aan die reëls van Orania te voldoen. Hulle het ongelukkig daarin volhard om nie die nodige aansoek te bring of die betrokke bord, wat teenstrydig met Orania se kulturele grondslag is, te verwyder nie.
Die GGBK is deeglik daarvan bewus dat alle inwoners nie altyd bewus is van alle skemareëls en ons grondgebruikprosesse nie en daarom sal daar , wanneer nodig, eers met inwoners in gesprek getree word as daar borde is wat moontlik die voorskrifte oortree – veral wanneer dit by die Christelike karakter en kulturele grondslag daarvan kom.
Die GGBK het derhalwe die aangeleentheid na die direksie van OAB verwys, waarop die direksie aan die twee betrokke inwoners die ruimte gebied het om aan die reëls te voldoen, terwyl die twee inwoners dan ook sekere ondernemings ter voldoening daarvan gemaak het. Ongelukkig is die ondernemings nie gestand gedoen nie en het die voortdurende verbreking van ondernemings en volgehoue nienakoming van die reëls, soos op almal van toepassing, die GGBK geforseer om verdere stappe te neem.
Die saak is derhalwe met ’n klagte na Orania se regspaneel verwys. Hierdie paneel, wat onafhanklik van die dorpskantoor funksioneer, het aan die twee inwoners verdere geleentheid ter voldoening aan die reëls gegee, terwyl die betrokke inwoners nogmaals ondernemings ter voldoening aan die reëls gegee het.
Daar is egter weereens nie aan die reëls voldoen nie en die twee inwoners het nie hul verdere ondernemings gestand gedoen nie. As gevolg daarvan, moes die saak dus noodgedwonge weer voor die regspaneel verskyn, waarop die twee inwoners vir die nienakoming van die toepaslike bepalings skuldig bevind is en ’n gepaste vonnis ontvang het. Die vonnis sluit onder andere boetes in en dat daar aan die betrokke reëls rakende die oprig van borde en tekens, soos konsekwent op almal van toepassing, voldoen moet word, of dat die borde by versuim daarvan verwyder moet word.
As opsomming kan dus genoem word dat die GGBK, oor ’n tydperk van bykans twee jaar, vele pogings aangewend het om die twee betrokke inwoners sover te kry om hul samewerking te gee, maar aangesien dit nie suksesvol was nie, moes verdere stappe noodwendig geneem word. Die vertoon van ’n bord sonder die nodige goedkeuring en wat teenstrydig is met Orania se kulturele grondslag, kon nie in billikheid teenoor die res van die gemeenskap onbepaald verskoon word nie.
Die GGBK spreek graag ons dank uit teenoor ons inwoners wat daartoe saamwerk dat ons grondgebruikprosesse, soos wetlik vereis, nagekom word, terwyl ons terselfdertyd die unieke kulturele karakter van Orania beskerm.
Sou enige inwoner of aandeelhouer onseker wees oor enige grondgebruikproses of reëls wat op advertensieborde en/of tekens betrekking het, kan u gerus met Cobus Pretorius, hoof van die afdeling: Beplanning en Grondgebruik by Orania Dorpskantoor, kontak maak.
Groete,
Grondgebruikbestuurskomitee (GGBK)
U kan, soos altyd, die Dorpsraad oor enige onderwerp kontak deur die volgende skakel te volg : $ https://myorania.co.za/kontak-ons/$
Indien u dit anoniem wil doen, kan u die Anonieme Forum op die myorania.co.za webwerf gebruik, deur die volgende skakel te volg – $ https://myorania.co.za/anonieme-voorstelle-opmerkings-of-klagtes/$
Opkomende inskrywings…
Vir meer kennisgewing inskrywings, gaan na…
Besoek ons kaart om verkeie plekke in Orania te vind…
Druk op nie nommer om te skakel…
Vir meer skakelnommers, gaan na…
Opkomende inskrywings…
Vir meer Nuusbrief inskrywings, gaan na…
Druk op nie nommer om te skakel…
Vir meer skakelnommers, gaan na…
Opkomende inskrywings…
Vir meer kalender inskrywings, gaan na…