
049/2026
21 April 2026
Geagte Oraniërs,
UITEENSETTING VAN ORANIA REGSPLEGING
Opsomming : Let asseblief op hierdie volledige uiteensetting van die struktuur van Regspleging in Orania en die manier waarop dit funksioneer ten bate van ons hele gemeenskap.
Orania is gevestig op die ideaal van Afrikaner-selfbeskikking as ’n deurlopende, praktiese proses wat reeds vandag uitgeleef word. Binne hierdie groeiende gemeenskap het Orania Regspleging ontstaan om ’n veilige, ordelike en voorspoedige lewensruimte te bevorder.
Regspleging fokus op die billike bemiddeling van siviele geskille en die hantering van dissiplinêre aangeleenthede, met ’n verbintenis tot hoë standaarde en volhoubare groei in lyn met beskikbare hulpbronne.
Dit is tekenend van die ontwikkeling van Orania dat ons instellings nie staties is nie, maar ook en soos hulpbronne beskikbaar is verder ontwikkel en groei. Orania Regspleging is geen uitsondering nie en bestaan vandag uit ’n operasionele Kantoor vir Regspleging, ’n onafhanklik verkose Regspaneel en die Orania Regsraad wat oorsig en beleid bepaal. Die uitbou van Regspleging se werksaamhede geskied aan die hand van duidelike doelwitte, maar word verantwoordelik benader op sodanige wyse dat die gemeenskap nie met ’n drastiese toename in heffings gekonfronteer word nie.
Die basiese vereistes van geregtigheid en wat insluit die billike en regverdige hantering van onderlinge geskille en oortredings is egter deurlopend deurslaggewend. In hierdie opsig dui onafhanklike oorsig deur senior regslui aan dat Orania Regspleging se prosesse billik en regverdig is en dat onafhanklikheid van die paneel gehandhaaf word, waarop daar volstoom voortgebou word. Elke Oraniër wat Verblyfreg ontvang het, het hulself kontraktueel tot die prosesse van Orania Regspleging verbind en is dit ook, veral met die oog op een van die basiese voorvereistes vir ’n gemeenskap wat op ’n gesonde basis wil groei, na regte ’n saak wat elkeen na aan die hart lê.
Gedurende 2025 het Orania Regspleging 110 klagtes by wyse van dissiplinêre verhore en 98 klagtes by wyse dissiplinêre Rondetafels gehanteer. Daar is ook 72 mediasies (bemiddeling) afgehandel.
Ons wens graag die onderskeie rolle en werksaamhede in Orania Regspleging, soos dit binne die Regsraad, die onafhanklike Regspaneel en die kantoor vergestalt, kortliks te verduidelik.
Die Orania Regsraad
Die Orania Regsraad is vanuit die behoefte om tussen al die grondentiteite van Orania ’n oorkoepelende komitee wat oorsigtelik kan handel saamgestel. Hierdie komitee moet oor die Kantoor van Regspleging toesig hou en moet die kantoor ook aan die komitee rapporteer. Die Regsraad hou ook oor die Regspaneel toesig, maar met die voorwaarde dat die onafhanklikheid van die Regspaneel steeds sal geld. Die Regsraad is derhalwe nie regsprekend nie, maar beleidmakend. Die Regsraad is vir hierdie rede dan ook die komitee met wie enige bespreking, voorstelle of klagtes (anders as binne normale regsprosesse) rakende regspleging in Orania opgeneem moet word.
Voormelde spreek van die realiteit van regspleging wat ten aansien van beide siviele geskille (mediasies) sowel as die oortreding van dissiplinêre reëls as gedeelde saak oor al die gebiede van Orania strek en ook soos Verblyfreg alle Oraniërs in die genoemde prosesse kontraktueel inbind. Dit is nie ’n saak wat slegs by een grondgebied (OAB) setel soos wat soms verkeerdelik verstaan word nie.
Die Orania Regsraad word saamgestel deur twee verteenwoordigers vanuit elke grondentiteit van Orania. Die huidige voorsitter van die Orania Regsraad is mnr. Abraham van Zyl.
Die Orania Regspaneel
Die Orania Regspaneel word vanuit die inwoners van Orania sodanige verkies dat hulle voldoen aan die vereistes van onafhanklikheid.
Die lede van die paneel het dan ook geen verbintenis met die Kantoor vir Regspleging nie en geskied hul verkiesing en aanstelling volgens elke onderskeie grondentiteit se prosedures en soos gekoördineer met die Orania Regsraad.
Die Regspaneel ontvang deurlopend opleiding en is verantwoordelik om as bemiddelaars in mediasies en as lede van ’n Verhoorpaneel by die aanhoor van dissiplinêre aangeleenthede op te tree. Die Regspaneel bestaan uit ongeveer 15 inwoners en wat besonderse diens aan die gemeenskap lewer. Daar word ook verder, soos nodig, van regsgeleerdes gebruik gemaak.
Die Orania Regspaneel verkies van tyd tot tyd ’n Hoof van die Regspaneel en wat sekere funksies ingevolge Orania se Dissiplinêre Kode verrig, soos onder andere die samestelling van die onderskeie panele wat sake moet aanhoor. Die huidige Hoof van die Regspaneel is mnr. Willem Westraad.
Die Kantoor vir Regspleging
Die Kantoor vir Regspleging is verantwoordelik vir die operasionele bestuur van Orania Regspleging. Die kantoor bestaan uit ’n hoof, ’n bestuurder vir geskilbeslegting en aanklaer, asook ’n assistent.
Aansoeke om mediasie word by die kantoor ingedien en deur die kantoor administratief gehanteer. Die kantoor poog gewoonlik om tussen die onderskeie partye wat in ’n geskil betrokke is, ’n moontlike skikking te bewerkstellig. Dit geskied binne die raamwerk van ’n regverdige proses en staan die kantoor in mediasies ten volle onafhanklik en laat die uitkoms daarvan in die hande van die onderskeie partye. Indien ’n vrywillige skikking nie moontlik is nie, sal die hulp van die Orania Regspaneel ingeroep word en word ’n bemiddelaar vir die mediasie aangestel. Die bemiddelaar tree as onafhanklike fasiliteerder van die proses op en met die oogmerk om die partye tot ’n vrywillige skikking te laat instem. Daar kan wel nie “bevele” teen enige party toegestaan word nie. Die Kantoor vir Regspleging kan ook, waar ’n mediasie nie suksesvol is nie, partye met die fasilitering van ’n arbitrasie bystaan.
Dissiplinêre klagtes, soos in ’n dossier vervat, word deur Orania Veiligheidsdienste na Orania Regspleging verwys en waar sodanige klagtes verder ingevolge die prosedure in Orania se Dissiplinêre Kode uiteengesit hanteer word. Die aanklaer, wat bemagtig is om sodanig namens die gemeenskap op te tree, is ook by die Kantoor vir Regspleging werksaam. Dissiplinêre klagtes word deur die aanklaer voor die onafhanklike Regspaneel gestel en word ’n prosedure gevolg waar elke party die volle geleentheid geniet om, onderhewig aan die geldende bewysreg en prosesreg, hul saak te stel.
Die Kantoor vir Regspleging word operasioneel deur Orania Aandeleblok (RF) (Edms.) Bpk. (OAB) ondersteun, terwyl ander grondentiteite van Orania ook ’n bydrae lewer. Soos vermeld, geskied die toesig oor die Kantoor vir Regspleging egter onafhanklik van OAB en neem die Orania Regsraad sodanige verantwoordelikheid op.
Die Kantoor vir Regspleging kan by die Dorpskantoor gekontak word ten aansien van enige navrae asook die hantering van onderlinge geskille tussen inwoners.
Vriendelike groete,
Jan van Zyl
Hoof: Orania Regspleging (kantoor)
Inwoners kan, soos altyd, die Dorpsraad kontak deur die volgende skakel te gebruik: 🔗 https://myorania.co.za/kontak-ons/
Indien u dit anoniem wil doen, kan u ‘n opmerking plaas in die Anonieme Forum op ons webwerf: 🔗 https://myorania.co.za/anonieme-voorstelle-opmerkings-of-klagtes/
Die bogenoemde vloedrisikovlakke word as aanduiders van gevaar gebruik:
Vlak GROEN: normale riviervlakke
Vlak GEEL: dreigende gevaar, wees paraat (geen toegang tot die rivier)
Vlak ORANJE: beveilig eiendom en verwyder waardevolle items en diere in geïdentifiseerde gebiede (verhoogde paraatheid)
Vlak ROOI: alle persone in geïdentifiseerde gebiede ontruim teen ʼn aangekondigde tyd
Opkomende inskrywings…
Vir meer kennisgewing inskrywings, gaan na…
Besoek ons kaart om verkeie plekke in Orania te vind…
Druk op nie nommer om te skakel…
Vir meer skakelnommers, gaan na…
Opkomende inskrywings…
Vir meer Nuusbrief inskrywings, gaan na…
Druk op nie nommer om te skakel…
Vir meer skakelnommers, gaan na…
Opkomende inskrywings…
Vir meer kalender inskrywings, gaan na…