140/2025
30 Julie 2025
Geagte Oraniërs,
ORANIA REGSPLEGING KENNISGEWING 2 VAN 2 OP 30 JULIE 2025 : REGSPANEEL GEDRAGSKODE
Opsomming : Hiermee word die voorgestelde Gedragskode vir lede van die Regspaneel gedeel. Sien ook verwante kennisgewing 139/2025 met inligting oor die Regsraad en Regspaneel Riglyne.
GEDRAGSKODE VIR LEDE VAN DIE REGSPANEEL
Orania is besonders bevoorreg om oor ’n Regspaneel te beskik wat geskille kan bemiddel en met dissiplinêre verhore as lede van die Verhoorpaneel kan optree.
Ons Regspaneel is ’n baie belangrike deel van ons eie regspleging in Orania. Dit geskied nie in isolasie en buite die jurisdiksie van die Suid-Afrikaanse reg nie, maar juis ingevolge die reg en meer spesifiek die privaatreg waarvolgens ons grondentiteite hul eie reëls kan maak en ook toepas. Die Dissiplinêre Kode van Orania, waartoe elkeen wat Verblyfreg ontvang hulself skriftelik daartoe verbind, reguleer die proses soos van toepassing by die hantering van oortredings. Die Regspaneel vervul gevolglik ’n belangrike rol in die handhawing van publieke orde in Orania.
Anders as wat byvoorbeeld in Suid-Afrika gebeur waar die president op aanbeveling van ’n kommissie regters aanstel, word die Regspaneel deur die aandeelhouers van ons grondentiteite en heeltemal onafhanklik van die kantoor aangewys. Dit dui op ’n baie meer deursigtige en onafhanklike proses as wat byvoorbeeld in Suid-Afrika die geval is. Die Regspaneel funksioneer dan ook ten volle onafhanklik van die kantoor en onder die leiding van die Voorsitter van die Regspaneel.
Die lede van die Regspaneel lewer hierdie diens vrywillig aan die gemeenskap van Orania. Dit doen hulle met groot toewyding om sorg te dra dat regsprosesse aan die hand van ons reëls billik en regverdig geskied.
Die Orania Regsraad, as instelling saamgestel uit ons grondentiteite wat ’n oorsigrol vervul en aan wie die Kantoor vir Regspleging op beleidsake rapporteer, het tesame met die Regspaneel ’n Gedragskode vir die paneel saamgestel. Die Gedragskode stel ’n standaard van gesonde praktyk en verteenwoordig sodanige gedrag wat die Regspaneel as belangrik vir hulself ag. Dit is ook in die ontwikkeling van regspleging in Orania belangrik om ’n Gedragskode daar te stel, aangesien dit konsekwentheid en ’n etiese raamwerk bevestig.
Die Regsraad nooi graag lede van die gemeenskap wat kommentaar ten aansien van die voorgestelde Gedragskode wil lewer, om sodanige kommentaar aan jan@myorania.co.za te stuur. Opbouende bydraes word graag in ag geneem.
Die voorgestelde Gedragskode vir lede van die Regspaneel verskyn hieronder:
Lede van die Regspaneel, of indien van toepassing, enige besoldigde voorsittende beampte, wat dissiplinêre sake in Orania hanteer, is onderhewig aan en verbind hulself tot die etiese vereistes soos vervolgens hierin vervat:
1. ʼn Lid van die Regspaneel moet die onafhanklikheid en integriteit van die Orania Regspaneel en die regsprosedures van Orania Regspleging in stand hou en bevorder, moet onafhanklik en sonder vrees geregtigheid nastreef en nooit toelaat dat hy of sy ten aansien van enige saak onbehoorlik beïnvloed word nie.
2. ʼn Lid van die Regspaneel hanteer alle sake met die grootste sorg van vertroulikheid en sal dit nie met enige derde partye anders as wat redelik ingevolge die Dissiplinêre Kode of reëls van Orania Regspleging vereis word bespreek nie. Kommunikasie van sake geskied deur die Kantoor vir Regspleging.
3. ʼn Lid van die Regspaneel voer die bepalings van die Dissiplinêre Kode saamgelees met die toepaslike reg uit en hou hom- of haarself daarby.
4. ʼn Lid van die Regspaneel is konsekwent in die uitvoering van die Dissiplinêre Kode of sy of haar taak as mediator of arbiter, is onpartydig en hanteer alle partye as ʼn gelyke voor die Paneel of in die mediasie of arbitrasie.
5. ʼn Lid van die Regspaneel dra sorg dat enige beskuldigde voor die Paneel ʼn regverdige en billike verhoor ontvang, dat sodanige beskuldigde sy onskuld, indien enige, ten volle binne die toepassing van die reg kan bewys en dat elke party voor die Paneel die geleentheid kry om sy kant van die saak te stel.
6. ʼn Lid van die Regspaneel verrig sy pligte met die nodige sorg en deeglikheid.
7. ʼn Lid van die Regspaneel weerhou hom- of haarself van persoonlike opmerkings of vrae teenoor enige party wat nie relevant tot die saak is nie en kritiseer nie ander lede van die Paneel of enige uitspraak of beslissing ten tyde van die aanhoor van ʼn saak of in die publiek nie.
8. ʼn Lid van die Regspaneel verwyder hom- of haarself van enige Paneel wat ʼn dissiplinêre saak of arbitrasie aanhoor, of indien hy of sy as mediator moet optree, indien daar ʼn wesenlike botsing van belange is.
9. ʼn Lid van die Regspaneel bevorder in alle sake wat aangehoor word en waaroor ʼn beslissing gemaak of bemiddeling moet geskied die Christelike karakter van Orania en streef die ideaal van ʼn veilige en voorspoedige gemeenskap wat streef na regmatige selfbeskikking na.
Met dank,
Jan van Zyl
Hoof: Regspleging
Inwoners kan, soos altyd, die Dorpsraad kontak deur die volgende skakel te gebruik: 🔗 https://myorania.co.za/kontak-ons/
Indien u dit anoniem wil doen, kan u ‘n opmerking plaas in die Anonieme Forum op ons webwerf: 🔗 https://myorania.co.za/anonieme-voorstelle-opmerkings-of-klagtes/
Opkomende inskrywings…
Vir meer kennisgewing inskrywings, gaan na…
Besoek ons kaart om verkeie plekke in Orania te vind…
Druk op nie nommer om te skakel…
Vir meer skakelnommers, gaan na…
Opkomende inskrywings…
Vir meer Nuusbrief inskrywings, gaan na…
Druk op nie nommer om te skakel…
Vir meer skakelnommers, gaan na…
Opkomende inskrywings…
Vir meer kalender inskrywings, gaan na…