Inwoners van Orania is deeglik bewus daarvan dat selfoon- en dataopvangs soms nogal wisselvallig kan wees en dat sekere gebiede in die dorp (bv. nader aan die oewer) oor die algemeen swakker sein as ander gebiede ontvang. Een van die selfoonseinverskaffers, Vodacom, het ag geslaan op die vele klagtes wat hulle vanuit Orania ontvang het, en het deur middel van ʼn toringmaatskappy, Insite Towers, in kontak met die Dorpsraad getree om ’n proses te begin wat moontlik tot die installasie van ’n addisionele selfoontoring in Orania kan lei. Die voorgestelde nuwe toring van 36 meter hoog sal basies met dieselfde tegnologie (2G, 3G en 4G) toegerus word as wat reeds op die groot toring langs die Dorpskantoor aangebring is, en skep die moontlikheid om verder opgegradeer te word soos wat die tegnologie ontwikkel. Die Sonplaas-perseel (H009) wat op Oewerlaan (Rooipad) geleë is, is geïdentifiseer as ‘n ligging wat beter dekking vir die gedeeltes van die dorp sal bied wat tans swakker sein ervaar. ’n Nuwe toring kan potensieel ook ander voordele vir Orania inhou, soos dat kameras op die toring geplaas kan word wat die dekking van OVD se beheerkamer sal verbeter ter beveiliging van die hele dorp.