161/2025

TERUGVOER VANAF DIE VERBLYFREGBELEIDKOMITEE

Uitgereik op: 25 August 2025
Uitvoerende Hoof

0

TERUGVOER VANAF DIE VERBLYFREGBELEIDKOMITEE

161/2025

25 Augustus 2025

Geagte Oraniërs,

TERUGVOER VANAF DIE VERBLYFREGBELEIDKOMITEE

Opsomming : Hiermee word terugvoer vanaf die verblyfregbeleidkomitee (VBK) gegee aangaande die heroorweging van die tydperk wat besoekers in Orania kan wees. Belangstellendes kan hierdie aangeleentheid eerskomende Woensdag (27 Augustus 2025) om 16h00 persoonlik met die VBK bespreek in die raadsaal by die Dorpskantoor.

Die Verblyfregbeleidkomitee (VBK) is die komitee in Orania wat met gedelegeerde bevoegdhede vanaf die grondentiteite oor die beleid vir Verblyfreg moet toesighou en dit deurvoer. Die VBK word saamgestel vanuit verteenwoordigers van die Orania Verteenwoordigende Raad, die Orania Beweging en die grondentiteite van Orania.

Die VBK het vanaf die Direksie van die Orania Aandeleblok (RF) (Edms.) Bpk. ’n versoek ontvang om die reël rakende besoekers wat Orania vir ’n tydperk van tot en met 28 dae sonder dat aansoek om Verblyfreg gedoen hoef te word in oorweging te neem.

Voormelde is ook opgevolg deur ’n versoek deur ’n inwoner en wat inhou dat die bepaling dat besoekers Orania vir 28 dae mag besoek in die geheel geskrap word, om vervang te word met ’n permitstelsel waar ieder en elke besoeker eers aansoek om ’n permit moet doen voordat hulle Orania mag betree. Die voorstel was verder dat volksvreemde besoekers se aansoeke dan afgekeur word met die bewoording dat hul aansoeke “nie aan Orania se gemeenskapstandaarde voldoen nie”.

Die VBK het voormelde versoeke gesamentlik en na behore onder bespreking geneem. Dit dien vermeld te word dat die versoeke volg na aanleiding van ’n insident waar volksvreemdes in ’n gastehuis te Orania tuisgegaan het en waarop sommige lede van die gemeenskap hul ongelukkigheid ten aansien daarvan onder andere op sosiale media en ’n gemeenskapsvergadering uitgespreek het.

Die VBK is dit eens dat die versoek dat die reël rakende 28-dae besoeke geskrap moet word nie goedgekeur kan word nie. Daar is ook besluit dat daar nie wysigings aan hierdie reël aangebring word nie.

Die redes tot bovermelde is onder andere die volgende:
1. Orania is gestig met die doel om selfbeskikking na te streef. Ieder en elke persoon wat aansoek om Verblyfreg doen, verbind dan ook hulself aan hierdie ideaal. Orania is verder uniek daarin dat ons nie bloot gesels oor die reg op selfbeskikking nie, maar dit prakties uitleef en daaraan bou. Om egter te bou aan selfbeskikking, vereis dat dit opreg en eerlik geskied. Om opreg en eerlik met ons ideaal om te gaan, verdien nie bloot lippediens nie, maar juis ook dat ons woorde en dade daarmee akkoord gaan.
2. Die primêre oogmerk van Verblyfreg is om seker te maak dat dit Afrikaners is wat deel van die gemeenskap vorm en daardeur vir Orania ’n regmatige aanspraak op selfbeskikking bied. Die kriteria binne die reg op selfbeskikking vir die bepaling van die groep of volk wat aanspraak maak op selfbeskikking is aspekte soos kultuur, geloof en taal, maar nie ras nie. Die Verblyfregbeleid moet versoenbaar met die reg en ons ideaal wees en ʼn afwyking daarvan sal dan ook ʼn afwyking van ons bestaansrede wees.
3. Die reg op selfbeskikking vereis onder andere dat sekere praktyke nie toegelaat word nie, anders kan daar nie met eerlikheid gestel word dat Orania opreg besig is met ons ideaal nie. Een van die praktyke wat beide die nasionale- maar ook internasionale reg verbied word, is enige vorm van rassisme. ’n Beleid wat inhou dat volksvreemdes nie Orania mag besoek nie, sal noodwendig as rassisme afgemaak word. Sodanige beleid hou nie maar slegs in dat Orania sy ideaal om selfbeskikking laat vaar nie, maar is boonop onwettig en derhalwe ʼn misdaad.
4. Verblyfreg ondersteun een van Orania se grondbeginsels, naamlik eie arbeid. Dit is deur eie arbeid wat Orania onder andere ons ideaal beskerm en ook uitbou. Eie arbeid beteken Afrikaner arbeid. Dit is dan ook ‘n voorvereiste om in Orania te werk of permanent te kan woon om oor Verblyfreg te beskik. Besoekers aan Orania doen nie aansoek om Verblyfreg nie, eenvoudig omrede hul nie in Orania wil werk of permanent in Orania wil woon nie. Met ’n onpraktiese beleid of reël wat op ras fokus en nie op kultuur, taal en eie arbeid nie, sal Orania juis dan nie ’n reg op voortbestaan hê of vir ons nageslag behoue bly nie.
5. ’n Beleid moet prakties uitvoerbaar wees. Die beskrywing “gemeenskapstandaarde” sal ’n beleid vir die interpretasie daarvan vereis. Daar is geen moontlikheid om sodanige beleid op ’n wyse prakties te verwoord dat dit inhou dat volksvreemdes se versoek om Orania te besoek afgekeur word nie. Die beleid sal op een of ander wyse na ras moet verwys en is dit eenvoudig onwettig en boonop onversoenbaar met ons strewe na selfbeskikking om ’n beleid van hierdie aard te aanvaar.
6. Orania wil juis ook nie in die nietigheid wegkwyn nie, maar ’n lig in die wêreld wees wat spreek van volke se reg om oor hulself te beskik. Met ’n benadering van isolasie is die oogmerk om hekke op te rig, om agter ’n onwettige rassebeleid weg te kruip, klein te bly en ’n tydelike skyn-gevoel van veiligheid te skep. Met ’n benadering van groter selfstandigheid is die oogmerk om ’n blywende en werklike ruimte van veiligheid te skep, realisties oor die toepaslike reg te wees, om ekonomies en kultureel te groei en ’n werklikheid te skep waar ’n al groterwordende Orania se inwoners oor die nodige selfversekering beskik om te weet dat besoekers nie ’n gevaar vir ons grondbeginsels en ideaal inhou nie. Dit vereis egter dat ons almal in die regte waardes begrond moet wees.
7. Sovêr dit ’n risiko vir Orania aangaan, maak die beswaar teen volksvreemdes as geïsoleerde geval nie sin nie. Dit is Afrikaners wat in Orania misdaad pleeg en in die geval van besoekers is dit Afrikaner-besoekers wat misdaad pleeg. Daar is gevalle van baie ernstige misdaad deur Afrikaners gepleeg, maar ontstel dit nie die gemeenskap so baie soos wat die besoek van wetsgehoorsame volksvreemdes doen nie. Die beswaar teen die besoek van volksvreemdes gaan derhalwe nie oor risiko nie, maar oor ras. Die verwysing na “risiko” word gebruik om die wese van die beswaar (ras) te verbloem. Dit is wel moontlik dat volksvreemde besoekers in Orania misdaad kan pleeg, maar die misdaadstatistiek in Orania wys dat ons risiko met misdaad nie volksvreemde besoekers is nie, maar ons eie mense.
8. Die trauma wat die ineenstorting van wet en orde binne die groter Suid-Afrika vir ons mense teweeggebring het, kan nie geïgnoreer word nie. Die werklikheid van misdaad binne Orania, alhoewel drasties minder as in die groter Suid-Afrika, wys dat openbare orde steeds van belang is. Hierin vervul Orania Veiligheidsdienste en Orania Regspleging ’n deurslaggewende rol en pogings deur enkele inwoners om ons instellings se geloofwaardigheid aan te tas, spreek van ’n behoefte om die verlies aan wet en orde ook in Orania wortel te laat skiet. Oraniërs wat daaroor ernstig is om risiko te beperk sal dan ook op die werklike probleem fokus en nie op ras nie.
9. Die versoek (deur die inwoner) impliseer verder toegangsbeheer. Die VBK kan egter nie daaroor ’n besluit neem nie, aangesien OAB daaroor moet besluit. Dit kan nietemin vermeld word dat toegangsbeheer in ieder geval geen verskil sal maak nie. Daar kan nie ’n beleid bestaan wat deur wagte uitgevoer word en sou impliseer dat hulle hekke vir volksvreemdes gesluit moet hou nie. Dit lok by implikasie dan onmiddellik klagtes teen Orania uit synde sodanige reël ʼn misdaad daarstel. Die gevolg is dat met toegangsbeheer, volksvreemde besoekers in ieder geval Orania sal kan besoek. Toegangsbeheer is ook baie duur en sal hierdie kostes deur die gemeenskap gedra moet word, maar kan die gemeenskap nie die drastiese verhoging in heffings wat vir die instel van toegangsbeheer benodig word bekostig nie.
10. Die protokol vir besoekers kan wyer deur gastehuise en grondentiteite bespreek word wat dan met beter voorstelle vorendag kan kom. Daar is reeds ’n gastehuiskomitee van vyf lede saamgestel wat die bestuur van volksvreemde besoekers by gastehuise probeer verbeter. Dit geskied egter welwetend dat daar nie van ’n gastehuis verwag kan word om enige vorm van rassebeleid in werking te stel nie, aangesien dit eweneens sal beteken dat sodanige gastehuis eienaar ’n misdryf pleeg.
11. Daar is praktiese maniere hoe die besoeke van volksvreemdes aan Orania aangespreek kan word, maar lê die antwoord nie op die weg van beleid nie. Sodanige praktiese maar wel wettige oplossings kan dan ook eerder deur byvoorbeeld grondentiteite aangespreek word, as wat die VBK moet oorgaan om onuitvoerbare beleid daar te stel.

Ieder en elke persoon wat aansoek om Verblyfreg in Orania doen, onderneem en bevestig dat Orania se grondslag nie op ras berus nie. Dit is belangrik dat ons mekaar hieraan herinner dat sommige van ons nie ’n verwagting koester dat Orania ’n rasgebaseerde beleid moet aanneem wat ons ideaal sal laat sneuwel nie.

Orania is bekend daarvoor dat ons as gemeenskap ’n alternatiewe, maar moderne en meer logiese oplossing vir die uitdagings wat ’n multikulturele samelewing daarstel bied. Hierdie oplossing is nie een wat teruggryp na die mislukkings van die verlede nie. Orania is nog voor die ondergang van apartheid gevestig omrede Oraniërs nie apartheid wou voortsit nie, maar die rug op die foute daarvan keer. Die geskiedenis het bewys dat waar ons volk vreemde arbeid gebruik terwyl ons die orde met ’n klem op ras poog te beskerm, dit gegewe die werklikheid nie geslaag het nie. Daar lê vir ons ’n grootse taak voor om ons volksgenote met die regte begronding positief aan die toekoms te help bou. Hierdie begronding is te vind in ons geloof, ons gedeelde geskiedenis, kultuur en taal. ’n Denkbeeldige toekoms wat gebou word op ’n begronding van ras wat reeds bewys is vernietigend te misluk, is eerder ’n poging om ewigdurend aan die heerskappy van ander volke uitgelewer te wees.

Die VBK het verder kennis geneem van die boodskap van die Burgemeester van Orania, mev. Lida Strydom, wat vroeër die jaar versprei is. Die inhoud daarvan spreek treffend tot Orania se ontstaan, ons werklikheid en ook ons toekomstige strategie. Ons verwys graag na haar boodskap wat by hierdie kennisgewing aangeheg word en vir elkeen van ons die moeite werd is om weer te lees.

Indien daar enige inwoner is wat ten aansien van hierdie saak verder met die VBK in gesprek wil tree, word u graag genooi na ’n geleentheid daarvoor op 27 Augustus 2025 om 16:00 in die OBD-Raadsaal (Dorpskantoor). Lede van die VBK sal by die gespreksgeleentheid teenwoordig wees.

Vriendelike groete,

Verblyfregbeleidkomitee

Inwoners kan, soos altyd, die Dorpsraad kontak deur die volgende skakel te gebruik: 🔗 https://myorania.co.za/kontak-ons/
Indien u dit anoniem wil doen, kan u ‘n opmerking plaas in die Anonieme Forum op ons webwerf: 🔗 https://myorania.co.za/anonieme-voorstelle-opmerkings-of-klagtes/

Korporatief

Dokumente Korporatief Filter

Finansies

Dokumente Finansies Filter

Grongebruik

Dokumente Grondgebruik Filter

Dorpsreëls

Dorpsreëls

Kennisgewings

Opkomende inskrywings…

023/2026
(Uitgereik op: 6 March, 2026)
Beplanning en Grondgebruik
022/2026
(Uitgereik op: 5 March, 2026)
Beplanning en Grondgebruik
021/2026
(Uitgereik op: 23 February, 2026)
Uitvoerende Hoof
020/2026
(Uitgereik op: 20 February, 2026)
Outomatisering en Digitalisering

Vir meer kennisgewing inskrywings, gaan na…

Orania Kaart

Besoek ons kaart om verkeie plekke in Orania te vind…

Algemene Skakels

Druk op nie nommer om te skakel…

Orania Veiligheids Dienste

Orania Beweging

OVD Watervleuel

Regspleging

Orania Ontwikkelingsmaatskappy

OSK

OSK Koöperatiewe Bank

Orania Sakekaner

Radio Orania

Vir meer skakelnommers, gaan na…

Nuusbriewe

Opkomende inskrywings…

01/2024
(Uitgereik op: 2 May, 2024)

2

Vir meer Nuusbrief inskrywings, gaan na…

Noodnommers

Druk op nie nommer om te skakel…

Orania Veiligheids Dienste

Orania Hospitaal

Huis Dokter

Orania Ambulaans

Elektrisien

Loodgieter

Vir meer skakelnommers, gaan na…

Kalender

Opkomende inskrywings…

27
Mar
Friday 27 March, 2026
- 29 March, 2026
17
Apr
Friday 17 April, 2026
- 18 April, 2026
12:00 am
15
May
Friday 15 May, 2026
- 16 May, 2026
Algemeen
12
Jun
Friday 12 June, 2026
- 13 June, 2026
5:00 pm
25
Jun
Thursday 25 June, 2026
- 27 June, 2026
8:00 am

Vir meer kalender inskrywings, gaan na…