208/2025
6 November 2025
Geagte Oraniërs,
WATERVERBRUIK EN WATERDRUK
Opsomming : Daar is maniere waarop inwoners waterdruk op hul aandeelblokke kan verbeter, terwyl die opgradering van Orania se waterinfrastruktuur steeds voortduur.
Orania se rouwaternetwerk is vir die grootste deel van die jaar voldoende om aan die rouwaterbehoefte te voldoen, maar die warm somermaande plaas druk op die netwerk weens verhoogde verbruik.
1. Wanneer daar baie verbruikers op die netwerk is wat besproei, sal daar drukverliese op die netwerk wees. Indien moontlik, is dit beter om in stiller tye en snags te besproei. ’n Tydskakelaar wat besproeiing in die stiller tye beheer, werk goed.
2. Afgesien van die drukverliese op die Dorpsraad se netwerk, mag dit moontlik wees om u interne waterdruk te verbeter deur onderhoud op u interne waternetwerk te doen. Orania se rouwater bevat baie skulpies en organiese materiaal wat pype en sproeiers kan verstop.
3. ’n Stoortenk met drukpomp is ’n baie goeie opsie om interne besproeiing te verbeter. Dit is belangrik dat die drukpomp nie direk uit die netwerk onttrek nie, maar eerder uit die stoortenk. ’n Drukpomp wat direk water uit die Dorpsraad se netwerk onttrek, veroorsaak watertekorte op die res van die netwerk, veral by omliggende aandeelblokke.
4. Al word rouwater vir besproeiing gebruik, maan ons steeds dat water effektief en spaarsamig gebruik word. Om snags te besproei is baie meer effektief as bedags, wanneer dit warm is.
5. Maak asseblief seker dat slegs rouwater vir besproeiing gebruik word. Kontak gerus die Dorpskantoor vir ’n gratis watertoets indien u wil seker maak.
Weens die druk op die waternetwerk het ons reeds verlede jaar begin met die eerste fase van die opgradering van die pomplyn vanaf die rivier, en die tweede fase sal binne die volgende paar weke voltooi wees. Dit sal verseker dat ons die stoordamme vol kan hou.
Gefaseerde opgraderings van toevoerpyplyne na die verskillende woongebiede van Orania het reeds vanjaar begin en sal gefaseerd verder uitgebrei word.
Intussen bedank ons u vir u samewerking en geduld.
Vriendelike groete,
Andre van Heerden
Hoof – Ingenieursdienste
Inwoners kan, soos altyd, die Dorpsraad kontak deur die volgende skakel te gebruik: 🔗 https://myorania.co.za/kontak-ons/
Indien u dit anoniem wil doen, kan u ‘n opmerking plaas in die Anonieme Forum op ons webwerf: 🔗 https://myorania.co.za/anonieme-voorstelle-opmerkings-of-klagtes/
Opkomende inskrywings…
Vir meer kennisgewing inskrywings, gaan na…
Besoek ons kaart om verkeie plekke in Orania te vind…
Druk op nie nommer om te skakel…
Vir meer skakelnommers, gaan na…
Opkomende inskrywings…
Vir meer Nuusbrief inskrywings, gaan na…
Druk op nie nommer om te skakel…
Vir meer skakelnommers, gaan na…
Opkomende inskrywings…
Vir meer kalender inskrywings, gaan na…