Orania het ’n besondere lewenskrag. In die oë van die wêreld is dit ’n behoudende, ouwêreldse dorp, selfs terugwerkend, maar wie dit werklik ken, weet dat dit vooruitstrewend en aanpasbaar is en dat dit die grondslag lê vir antwoorde op vraagstukke wat die mensdom al duisende jare teister. Wie ’n geslote gees het, dra daardie geslotendheid ook oor op dié met oop gemoedere.
Dit is belangrik dat Orania hierdie deel van sy aard behou: ’n oop gemoed. Daarmee bedoel ek nie ’n losbandige of rigtinglose oopheid soos die gevestigde orde dit verstaan nie, maar ’n ruim oopheid wat erken dat alles op hierdie wêreld ’n doel het, en dat selfs ons skynbare teenstanders ’n boodskap van ons Here bring; dat selfs die haat rondom ons betekenis dra en dat God dit tot heil sal wend.
Ek bid dat Oraniërs en die leierskap van Orania nie vervreem sal raak van hul eie dakloosheid en tuisloosheid nie; dat ons rykdom as gemeenskap aan ons geskenk is deur God, wat ons hande ywerig maak en ons blik verskerp. Nog nooit het ’n sterfling die wind gesien nie, en tog buig die takke en kraak die stamme in die storm. Hoeveel te meer ondeurgrondelik is die beweginge van die onbegryplike hand van ons Here?Hoeveel profete is nie deur gemeenskappe met magtige vestings en groot leërs uitgespoeg nie? Moenie vergeet nie: soos daardie heersers was en is, só kan jy ook wees.
Die smal pad lê tussen twee afgronde: aan die een kant die afgrond van oormaat krag, aan die ander die afgrond van kraggebrek. Die kwaad mag nie in ’n gemeenskap woon nie, maar ’n gemeenskap moet ook nie muggies begin sif nie.
Ek self het as ’n vyftienjarige seun in ’n langdurige Psigose beland — ’n ongemaklik geneeskundige benaming. In die oë van my gemeenskap was ek natuurlik ’n gek, byna ’n vreemdeling, byna iets gevaarliks, al was daar min dryfkrag in my om ander te straf of seer te maak. Ek het baie hardnekkig alle vorme van sielkundige behandeling, ondersoek en medisyne geweier. Ek het geglo dat daar ’n rede was vir al die warboel in my, al het die wind rondom my gewaai soos dit wou en my na vreemde plekke gevoer.
Maar in daardie reise van abstraksie en waansin, het ek meer ontdek as in al die aardse kennis wat ek in my lewe versamel het, want dit was ’n reis deur die eie beweginge van my siel. My waansin het my gedryf tot ’n gevoelsmatige begrip van my eie wanorde en het my verlange na orde aangeblaas. Só sterk, dat ’n mens kan sê my sielswarring was nie ’n siekte nie, maar ’n teken van ’n reeds bestaande verwarring en dwaasheid wat my deur ’n sondige wêreld aangeleer is.
Wat ek bedoel om te sê, is dit: laat die gekkes gek wees. Ek kan jou vertel dat niemand my vandag, as ’n volwasse man, ná baie jare, nog sielsverward of gesplete van gees sal noem nie. Ná jare se rondswerf en waansin vind ’n man op ’n dag sy God. Daar het groot spanning op my gerus weens die manier waarop ek grootgemaak is, en dit het in my tienerjare soos weerlig uitgebreek. As ek geglo het ek is gek en dat slim toertjies van mense in wit jasse my moes genees, sou ek met medisyne afgestomp gewees het of in ’n inrigting beland het, soos ou rommel op die ashoop van die mensdom. Maar ek het God vertrou dat Hy alles ten goede sal keer.
Kyk na die natuur: ’n pragtige skouspel van sameklank, geen kunstenaar kom naby nie, maar vir elke wese daarin is dit ’n harde stryd. Só het ek my brein gesien en geglo dat die innerlike stryd tot heil sou dien, en dat om daardie stryd te verdof nie minder ’n misdaad is as om die skoonheid van die aarde te vernietig nie.
Ek hoop dat my persoonlike verhaal ten minste ’n klein teenspreking kan bied teen die siening van gekkes as weggooigoed. Glo ons as Christene nie ook dat liggaamlik en geestelik gebrekkiges nie uitgewis mag word nie, soos die moderne heidene dit doen in plekke waar ongeborenes verwerp word? Waarom sou ons dan ’n maatskaplike uitwissing van die gekkes en halfverstandiges mag doen? Hulle wegsteek in inrigtings, hulle begrawe in die graf van sogenaamde geneeskundige “wetenskap”? Kan ons God nie met een woord alle verminktes, in gees en liggaam, genees nie? Waarom maak Hy hulle dan?
Ek sal nie sê dat geneeskundige hulp nutteloos is nie, maar die hedendaagse kennis oor geestesgebrekkiges is in werklikheid uiters gebrekkig en dikwels skadelik, met ontmensliking as doel. Dit is ’n kennis wat groei en verandering ontken en ’n mens meet volgens sy geldwaarde. Kan God nie van een brood twee brode maak nie? Moet ’n mens geld laat rol? Die mens moet swoeg vir sy brood, maar ons God weet dat die gebrekkige nie kan ploeg nie. ’n Gemeenskap strek baie dieper as slegs sy gesondes. Dit is juis die ongesondes wat aspekte van die lewe bewaar wat ’n man op die kruin van sy krag ontbeer.
Hoe trots is jongmense nie op hul liggaamskrag en skoonheid nie, en hoeveel ellende bring die krampagtige bewaring daarvan mee — jong seuns en meisies wat dol raak oor kleredrag, skaam omdat hulle nie mooi of sterk genoeg voel nie. Wat bring dit ons? Ek verseker jou: as mense die gebrokenes en verrottendes van ons wêreld in hul swakheid en ellende sou aanskou, sou hulle ryper en vollediger mense word. Want wie gee om vir ’n muskiet as ’n leeu hom op die hakke is?
My slotsom is dus: jy kan ’n gemeenskap blink was en net die mooiste wys, maar van binne bly ons altyd mense van vlees en bloed, bevlek met siekte, lelikheid en pyn. Wie ’n gemeenskap wil hê wat God se volle menslikheid eer, moet begin om die volheid van menswees te eer en nie te begrawe nie. Want net soos Christus kom die waarheid uit sy graf, hoe diep jy dit ook al begrawe. Gee die verminktes, die versteurdes en die ongesondes ’n kans — om waardig te leef en te sterf, om meer te wees as ’n probleem. Verstaan dat elke mens ’n vonk van God is en ’n boodskap van Hom dra.
Ek sê nie dat hierdie mense aktiewe heersmag moet dra nie, maar laat hulle in hul waarde staan; laat hulle wees wat hulle is: kinders van God, net so bedoel as bewakers en versorgers van ons mooi aarde. Moet nooit saamgaan met die gedagte dat hulle minderwaardig is nie, want in daardie gedagte lê reeds die wortel van ’n kwaad wat soos onkruid versprei. Wie die swakste mens reeds by geboorte veroordeel, sal aanhou om die swakkes te veroordeel totdat hy by Christus self uitkom — en Hom veroordeel.
Dankie vir die lees. Mag die Here ons bewaar en beskerm.
Dankie vir jou eerlike skrywe.
Opkomende inskrywings…
Vir meer kennisgewing inskrywings, gaan na…
Besoek ons kaart om verkeie plekke in Orania te vind…
Druk op nie nommer om te skakel…
Vir meer skakelnommers, gaan na…
Opkomende inskrywings…
Vir meer Nuusbrief inskrywings, gaan na…
Druk op nie nommer om te skakel…
Vir meer skakelnommers, gaan na…
Opkomende inskrywings…
Vir meer kalender inskrywings, gaan na…