133/2026
30 September 2026
Geagte Oraniërs,
PROSES VIR DIE HANTERING VAN “INTERVLAK”-GEVALLE
NOTA – Hierdie kennisgewing vanaf die Orania Verteenwoordigende Raad (OVR) word hier op die Dorpsraad se kanale versprei sodat soveel as moontlik Oraniërs daarvan bewus sal wees.
Opsomming : Die begrip “intervlak” is onlangs bekend gestel om die ruimte te beskryf waar Orania en die buitewêreld met mekaar skakel. ’n Praktiese proses is nou ontwikkel om groter sekerheid te bied oor hoe gevalle hanteer moet word waar daar onsekerheid bestaan of ’n bepaalde aktiwiteit op die intervlak plaasvind, en of die Arbeidsbeleid daarop van toepassing is.
Die OVR het onlangs die dokument “Orania en die intervlak: benadering en hantering” aan die gemeenskap bekend gestel. Die begrip “intervlak” beskryf die ruimte waar Orania en die buitewêreld mekaar ontmoet en waar verhoudings, handel, kommunikasie en ander vorme van interaksie plaasvind. Belangstellendes kan hierdie dokument aflaai van die OVR se webwerf af, deur die volgende skakel te volg – https://ovr.co.za/dokumente/
Die intervlak is in wese ’n formalisering en verwoording van praktyke wat reeds vir baie jare in Orania bestaan. Die bekendstelling daarvan beteken dus nie dat die aard van Orania of die toepassing van bestaande beleid verander het nie. Dit help eerder om duideliker te onderskei tussen gewone arbeid wat ingevolge die Arbeidsbeleid hanteer moet word, en ander vorme van noodsaaklike of voordelige skakeling met die buitewêreld.
Dit is ook belangrik om weer te beklemtoon dat die intervlak die skakeling tussen Orania en persone en instellings van buite Orania beskryf. Soos met Orania se arbeids- en verblyfregbeleid, is ras nie die maatstaf waarvolgens hierdie onderskeid getref word nie.
Na die bekendstelling van die oorspronklike dokument het personeel van Orania Regspleging daarop gewys dat daar in die praktyk steeds onsekerheid kan ontstaan oor wanneer ’n aktiwiteit inderdaad op die intervlak plaasvind en wanneer dit eerder arbeid is waarop die gewone Arbeidsbeleid van toepassing is.
Die gebruik van nie-Afrikanerarbeid is ’n oortreding van Orania se dissiplinêre kode en die intervlak kan nie gebruik word om gewone arbeid as iets anders voor te stel en sodoende die Arbeidsbeleid te omseil nie. Dit is daarom nodig om groter regsekerheid te skep.
Na verdere gesprekke met Orania Regspleging is ’n formele maar vlugvoetige proses ontwikkel om te bepaal of ’n spesifieke aktiwiteit op die intervlak is al dan nie, alvorens daar met die aktiwiteit voortgegaan word.
Die volgende proses sal voortaan gevolg word:
ERKENDE INTERVLAKAKTIWITEITE (geen goedkeuring is nodig nie)
1) ’n Geslote lys van aanvanklik erkende intervlakaktiwiteite word hiermee aan die gemeenskap gepubliseer en, ten spyte daarvan dat daar in sommige gevalle tegnies “arbeid” verrig word, kan nie-Afrikaners dit in Orania verrig:
1a) Aflewerings.
1b) Buitekoerierdienste.
1c) Voldoeningsbeamptes van staatsdepartemente en/of reguleerders.
1d) Deelnemers aan sportaktiwiteite.
1e) Beamptes van sportaktiwiteite.
1f) Predikante wat van buite Orania ’n spesifieke gemeente tydelik bedien.
1g) Spesialis-besoekende dosente by skole, kolleges en universiteite.
1h) Gaskunstenaars, hul orkeslede en verhoogondersteuning (soos klankingenieurs).
1i) Werknemers van eksterne diensverskaffers, beperk tot Eskom, Vodacom en kontrakteurs wat deur hulle aangestel is.
2) Die aktiwiteite op hierdie lys moet nouer eerder as wyer geïnterpreteer word.
3) Inwoners kan met enige van die gepubliseerde intervlakaktiwiteite voortgaan sonder om vooraf ’n formele goedkeuringsproses te volg. Gesprekke met bure en ander Oraniërs wat deur die aktiwiteit geraak kan word, word egter ten sterkste aanbeveel.
4) OVD en die bestuur van die betrokke grondentiteit moet wel vooraf van die intervlakaktiwiteit ingelig word.
ONSEKERHEID OF NIE-ERKENDE INTERVLAKAKTIWITEITE (volg arbeidpaneel-proses)
5) Sou ’n aktiwiteit nie op die gepubliseerde lys van intervlakaktiwiteite verskyn nie, of indien daar enige onsekerheid bestaan oor of ’n aktiwiteit wel op die intervlak is en of dit arbeid daarstel, moet die inwoner die gewone arbeidspaneelproses volg.
6) Die arbeidspaneel sal die aangeleentheid volgens sy gewone proses hanteer en evalueer. Dit behels onder meer om saam met die inwoner alternatiewe te bedink ten einde Afrikaners vir die betrokke aktiwiteit te gebruik.
7) Sou die arbeidspaneel van oordeel wees dat die aktiwiteit wel op die intervlak is, kan die paneel ’n aanbeveling aan die OVR maak vir oorweging. Indien geskik, kan die OVR dit bekragtig. Sou die paneel onseker wees of die aktiwiteit op die intervlak is al dan nie, kan die arbeidspaneel dit ook na die OVR verwys vir verdere oorweging.
8) Elke aktiwiteit wat deur die OVR geag word op die intervlak te wees, word tot die geslote lys intervlakaktiwiteite in paragraaf 1 gevoeg en aan die gemeenskap gekommunikeer.
9) Dit is belangrik dat goeie kommunikasielyne tussen die arbeidspaneel en die OVR gehandhaaf word sodat tydige en spoedige uitkomste ten opsigte van onsekerhede bereik kan word. In gevalle waar die OVR, vanweë omstandighede van welke aard ook al, nie betyds aan die arbeidspaneel ten aansien van ’n versoek om oorweging kommunikeer nie, kan die arbeidspaneel sy oordeel gebruik om ’n voorlopige besluit te neem oor of die betrokke aktiwiteit op die intervlak is al dan nie.
Die doel van hierdie proses is dus nie om ’n nuwe uitsondering op Orania se Arbeidsbeleid te skep nie, maar om groter duidelikheid en regsekerheid te bied oor die onderskeid tussen gewone arbeid en aktiwiteite wat werklik deel vorm van die intervlak tussen Orania en die buitewêreld.
Die bestaande uitgangspunt bly onveranderd: Orania se eie arbeid, eie grond en eie instellings moet beskerm en versterk word, terwyl noodsaaklike en voordelige skakeling met die buitewêreld op ’n ordelike, verantwoordelike en doelgerigte wyse hanteer word.
Vriendelike groete,
Riaan Jacobs
OVR Voorsitter
Inwoners kan, soos altyd, die Dorpsraad kontak deur die volgende skakel te gebruik: 🔗 https://myorania.co.za/kontak-ons/
Indien u dit anoniem wil doen, kan u ‘n opmerking plaas in die Anonieme Forum op ons webwerf: 🔗 https://myorania.co.za/anonieme-voorstelle-opmerkings-of-klagtes/
Druk op nie nommer om te skakel…
Vir meer skakelnommers, gaan na…
Opkomende inskrywings…
Vir meer kennisgewing inskrywings, gaan na…
Opkomende inskrywings…
Vir meer Nuusbrief inskrywings, gaan na…
Opkomende inskrywings…
Vir meer kalender inskrywings, gaan na…
Besoek ons kaart om verkeie plekke in Orania te vind…
Druk op nie nommer om te skakel…
Vir meer skakelnommers, gaan na…